Central SA
Lichtenburgers weke lank sonder krag, water─── KEKELETSO MOSEBETSI 11:35 Tue, 19 Nov 2024
Ditsobotla-munisipaliteit beweer hy werk hard om water- en kragonderbrekings te beëindig.
Ontstoke inwoners van Lichtenburg het Maandagaand (18/11) die strate ingevaar uit frustrasie omdat hulle weke lank sonder krag en water sit. Sommige het paaie met klippe en brandende buitebande versper. Hulle eis dringende optrede van die sukkelende plaaslike owerheid.
’n Inwoner, Refilwe Palagangwe, het gesê die gemeenskap is keelvol omdat die munisipaliteit eenvoudig nie op hul klagtes reageer nie. “Ons is al twee tot drie weke sonder water en elektrisiteit. Ons het probeer om met die munisipaliteit te kommunikeer, maar hulle antwoord nie.
“Daar is geen kennisgewing, geen verduideliking nie. Daarom het ons betoog in die hoop dat iemand met ons sou kom praat het, maar niemand het opgedaag nie.”
Die situasie is al sedert verlede jaar beroerd, het sy gesê. In baie gevalle het ’n private maatskappy op Lichtenburg ingespring om water- en elektrisiteitsprobleme op te los.
Pius Batsile, munisipale woordvoerder, sê intussen die gebiede wat die ergste deurloop, is onder meer Blydeville en Burgersdorp. Die hoofoorsaak is foutiewe kragkabels, wat groot dele van die gemeenskap in die duister laat.
“Ons het ons bes gedoen om die kragvoorsiening in die geraakte gebiede te herstel, maar die situasie bly onopgelos. Ons het die saak na die premier se kantoor en die departement van samewerkende regering vir ingryping verwys,” sê Batsile.
Hy gee toe die munisipaliteit sukkel met ’n ernstige finansiële krisis, wat hul vermoë belemmer om diensverskaffers aan te stel en hulpbronne aan te koop om dienste aan inwoners te lewer.
“Verlede week kon ons watertenks aan sekere gebiede voorsien, al het ons nie genoeg waterwaens gehad het nie. Ons moes hulp van die distriksmunisipaliteit kry.”
Ten spyte van die uitdagings verseker Batsile inwoners die munisipaliteit werk hard om die situasie te verbeter.