On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Olebogeng
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Heidedalse kinders trotseer gevaar terwyl openbare swembad in onbruik staan

───   HEIDRÈ MALGAS 08:13 Mon, 18 Nov 2024

Heidedalse kinders trotseer gevaar terwyl openbare swembad in onbruik staan | News Article
DA-raadslid vir wyk 16 in Mangaung, Attie Terblanche. Foto: Heidre Malgas

Met die openbare swembad wat in onbruik staan, trotseer kinders van Heidedal in Bloemfontein nou die gevare van ‘n gruisgroef wanneer hulle wil swem.

Die plaaslike openbare swembad het weens gebrekkige instandhouding in onbruik verval. 

Die DA in die Mangaung-metro sê plaaslike kinders het geen toegang tot ’n veilige swemplek nie. Die party wil dringend van die metro weet waarom hy toegelaat het dat die openbare swembad in onbruik verval. 

“Die Heidedal-gemeenskap het amper ’n jaar gelede die taak op hulle geneem om die swembad te herstel, maar daar is geen ondersteuning van die munisipaliteit nie,” sê DA-raadslid vir wyk 16 in Mangaung, Attie Terblanche.

Die openbare swembad in Heidedal. Foto: Heidre Malgas

“Die wegval van hierdie veilige ontspanningsplek dryf kinders om alternatiewe plekke te soek, met baie wat hulle na die gevaarlike gruisgroewe wend. Hierdie groewe het tragies talle jong lewens geëis en diep verliese in die gemeenskap veroorsaak.”

Bloemfontein Courant het voorheen berig die liggaam van ’n 10-jarige seun van Heidedal is op 17 Januarie 2020 by die Witherow-gruisgroefdam gevind. In 2022, is berig oor nog twee ander liggame wat  hier gevind is. Dié twee slagoffers, 17 en 18 jaar oud, het op Saterdag 19 Februarie 2022 omstreeks 14:00 saam met twee vriende gaan swem. Die polisie het die liggame opgespoor ná ’n drie-uur lange soektog. 

“Ons poog om kinders in Heidedal ’n veilige plek te bied om te swem – onder toesig – wat noodsaaklik is vir hul welstand, veiligheid en ontspanning. Onmiddellike optrede van die munisipaliteit, ondersteun deur toegewyde plaaslike verteenwoordiging, is noodsaaklik om verdere risiko’s te voorkom en die veiligheid van ons jong inwoners te verseker.”


Terblanche sê een van die swembadpompe is aan die begin van die jaar vir onderhoud geneem, maar is steeds nie terugbesorg of geïnstalleer vir die instandhouding van die swembad nie.

OFM Nuus het Vrydag (15/11) die perseel besoek en is begroet met ’n alge-gevulde swembad.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, sê daar is planne in plek vir die herstel van die swembad. Wanneer en hoe dit sal plaasvind, bly egter ’n vraag wat wag op ’n antwoord.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.