On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Lyk van onwettige mynwerker by Stilfontein gevind

───   15:35 Thu, 14 Nov 2024

Lyk van onwettige mynwerker by Stilfontein gevind | News Article
Foto: Facebook

Meer as 4 000 zama-zamas is steeds ondergronds vasgekeer.

Die ontbinde lyk van ’n onwettige mynwerker is Donderdag (14/11) uit ’n mynskag by Stilfontein gehaal. Die lyk is omstreeks 11:00 na die oppervlak gebring.

’n Gemeenskapsleier, Thembile Botman, het aan News24 gesê vrywilligers het toue gebruik om die lyk uit te trek. Dit is daarna deur ’n lykswa van die polisie weggeneem.

Vyf mynwerkers van Suid-Afrika, Mosambiek en Lesotho is gister (13/11) lewendig uit die mynskag gehaal, terwyl 15 mynwerkers, hoofsaaklik Zimbabwiërs, Mosambiekers, Basotho’s en Suid-Afrikaners, Dinsdag (12/11) na die oppervlak gekom het.

Foto: Facebook

Hulle was in ’n uitgehongerde en ontwaterde toestand nadat hulle ’n geruime tyd ondergronds deurgebring het. Na raming is meer as 4 000 zama-zamas steeds ondergronds vasgekeer.

News24 berig gemeenskapsleiers betreur die regering se “onwilligheid” om die vasgekeerde mynwerkers in Orkney en Stilfontein te help. Dit volg nadat Khumbudzo Ntshavheni, minister in die Presidensie, gesê het die regering “sal hulle uitrook”.

Meer as 1 000 onwettige mynwerkers is die afgelope tyd in hegtenis geneem nadat die polisie en die weermag ingange wat deur inwoners gebruik is om kos, water en ander benodigdhede aan die zama-zamas te verskaf geblokkeer het.

‘Ons gaan hulle uitrook’

Ntshavheni het gister (13/11) tydens ’n inligtingsessie beklemtoon die regering sal nie die zama-zamas bystaan nie en het na hulle verwys as misdadigers wat “vervolg” moet word.

“Jy wil hê ons moet hulp aan misdadigers stuur? Ons gaan hulle uitrook, hulle sal uitkom. Misdadigers moet nie gehelp word nie, misdadigers moet vervolg word,” sê sy.

Water- en voedselvoorrade afgesny

“Ons het hulle nie soontoe gestuur nie, en hulle het nie met goeie bedoelinge vir die republiek daarheen gegaan nie. So, ons kan hulle nie help nie, diegene wat hulle wil help, moet vir hulle kos neem. Hulle sal uitkom en ons sal hulle in hegtenis neem.”

Die polisie sê die onwettige mynwerkers wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die Stilfontein-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van goudstof, oortreding van die Immigrasiewet en onwettige mynbou-aktiwiteite.

Die Citizen berig die ministers van polisie en verdediging besoek môre (15/11) Stilfontein om die saak “op ’n vriendelike manier af te handel”.

‘Die regering se verbintenis om wet en orde te handhaaf’

“Die besoek kom te midde van voortdurende pogings deur die polisie en die Weermag om met Operasie Vala Umgodi onwettige mynwerkers veilig na die oppervlak te bring,” sê Kamogelo Mogotsi, woordvoerder van die ministerie van polisie.

Sy sê die besoek is die regering se verbintenis om wet en orde te handhaaf en onwettige aktiwiteite te voorkom.

“Die besoek poog om interaksie te hê en wetstoepassingsagentskappe, die Noordwes-regering en mynbouleierskap te betrek en om vordering en uitdagings te evalueer.”

OFM Nuus/Christine van der Westhuizen mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.