On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Bouwerk van reusesonkragaanleg begin in Vrystaat

───   13:07 Thu, 14 Nov 2024

Bouwerk van reusesonkragaanleg begin in Vrystaat | News Article
Foto: Juwi.com

Die grootste datasentrumoperateur in Afrika, Teraco, het met bouwerk aan ’n 120 MW fotovoltaïese(FV) sonkragaanleg in die Vrystaat begin.

Die maatskappy het nie bekend gemaak presies wáár in die Vrystaat die aanleg gebou word nie. Die aanleg sal na verwagting teen die einde van 2026 voltooi wees, waarna dit jaarliks meer as 354 000 MW sal produseer.

Teraco se doel is om sy eie volhoubare energiebron te skep wat hy sal gebruik om elektrisiteit na sy datasentrums in Durban, Johannesburg en Kaapstad te stuur. “Hernubare energie-infrastruktuur is ’n vereiste in ’n era wanneer rekenaartoepassings soos kunsmatige intelligensie meer krag gebruik,” sê Jan Hnizdo, uitvoerende hoof van Teraco.

“Die behoefte is selfs meer dringend in Suid-Afrika, gegewe die beperkings in die opwekking van elektrisiteit en huidige vlakke van hernubare energiepenetrasie.”

‘Bou van aanleg is belangrike mylpaal’

Hnizdo sê die aanvang van die bouwerk is ’n belangrike mylpaal “in ’n lang pad die afgelope paar jaar”.

“Ons het verskeie energie-uitdagings in Suid-Afrika. Dit bied ’n ongelooflike geleentheid om die behoeftes van ons breër gemeenskap te ondersteun terwyl Teraco se hernubare energiedoelwitte ook bereik word.”

Teraco het ’n vennootskap met Juwi en Subsolar aangegaan om die 120 MW FV-sonkragaanleg te ontwikkel. Juwi is aangestel om die verkryging, konstruksie en ingebruikneming te ontwerp en te bestuur.

Foto: Juwi.com

Eskom het in Februarie vanjaar die netwerkkapasiteit aan die datasentrumoperateur toegewys. Sedertdien is die tyd bestee aan die finalisering van die aanlegontwerp en wielreëlings.

Teraco gaan ook Eskom se transmissie-infrastruktuur opgradeer sodat die elektrisiteit wat opgewek word, suksesvol aan die nasionale netwerk oorgedra kan word.

‘Baan weg vir munisipaliteite’

Energiewiele, wat toelaat dat krag van ’n onafhanklike energieprodusent na eindgebruikers in stedelike gebiede verskuif kan word via bestaande transmissie- en verspreidingsnetwerke, is met die Kaapstad- en Ekurhuleni-munisipaliteite onderhandel.

Foto: Juwi.com

“Teraco beskou hierdie projek as noodsaaklik om sy ambisies vir hernubare energie te verwesenlik en glo dat dit die weg sal baan vir ander munisipaliteite vir hernubare energieprojekte,” sê Bryce Allan, Teraco se hoof van volhoubaarheid.

“Dit sal uiteindelik munisipaliteite help om nuwe beleggings te lok.”

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.