On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-ouetehuis steier weens owerheid se kragskuld

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:33 Wed, 13 Nov 2024

Noordwes-ouetehuis steier weens owerheid se kragskuld | News Article
Foto verskaf

’n Ouetehuis in Noordwes gaan gebuk onder ernstige bedryfsuitdagings nadat kragtoevoer afgesny is weens die departement van openbare werke se Eskom-skuld.

Die instelling op die nedersetting Sonop, naby Brits, sit al langer as twee weke sonder krag. Saans kan net basiese take verrig word soos wasgoed was en kos maak wanneer sy kragopwekker loop, sê Elsa Lourens, VF Plus-raadslid in Madibeng-munisipaliteit.

Vir ander noodsaaklike aktiwiteite wat buite op vuur gedoen word, maak inwoners hout bymekaar sover hulle kan. Sonop is die tuiste van sowat 300 huishoudings, sowel as ’n ouetehuis, ’n kinderhuis en twee laerskole.

Die kragonderbreking, waaronder Sonop en die nabygeleë township Khalanyoni gebuk gaan, het op 25 Oktober begin weens Eskom-skuld van sowat R11 miljoen, sê Lourens. Albei dele is geleë op grond in besit van die nasionale departement van openbare werke, wat verantwoordelik is vir die betaling van die Eskom-rekening, nie Madibeng nie.


“Dit is nie die eerste keer dat die gemeenskap sulke ontberings ervaar nie: In 2015 was die gebied agt weke sonder krag weens ’n soortgelyke Eskom-skuldkwessie,” sê Lourens. Destyds het die Lonmin-myn ingespring en sowat R50 000 se blikkieskos geskenk om onder die mense sonder krag te versprei.

Die VF Plus het ’n afvaardiging van Sonop bygestaan in onderhandelinge met Noordwes se provinsiale departement van openbare werke en paaie om die kragtoevoerkwessie op te los.

Volgens Lourens heers aansienlike verwarring en frustrasie lank reeds oor watter regeringsliggaam dienste aan Sonop en omstreke moet lewer. Moses Kgantsi, provinsiale departementshoof van openbare werke en paaie, het die VF Plus se afgevaardigdes en inwoners verlede week op ’n vergadering toegespreek.

‘Aktiwiteite word buite op vuur gedoen’

“Ons het … genoem dat die Sonop-gemeenskap al jare ly weens die onsekerheid oor watter staatsinstelling verantwoordelik is vir die verskaffing van dienste.” Hierdie gebrek aan duidelikheid lei dikwels tot diensonderbrekings, aangesien verskillende regeringsvlakke mekaar vir die verval van dienslewering verkwalik.

Kgantsi het die gemeenskap verseker dat sy departement teen 12 November die nodige betaling aan Eskom sal doen om krag te herstel. “Sover ons weet, is ’n skikking bereik oor die bedrag wat die departement van openbare werke nou aan Eskom moet betaal om die kragtoevoer herstel te kry, hoewel die presiese bedrag onduidelik bly.”

Teen Woensdag (13/11) was dit nog nie bekend of die geld wel betaal is nie.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.