Central SA
Wit pilletjies in skyfiepakkie gevind by Kenhardt Primêre Skool─── HEIDRÈ MALGAS 13:06 Wed, 06 Nov 2024
Die Noord-Kaapse polisie stel ondersoek in nadat ’n leerder van die laerskool op Kenhardt afgekom het op vreemde wit pilletjies in ’n pakkie skyfies.
Geen van die Primêre Skool Kenhardt se leerders het siek geword van die skyfies wat Dinsdag (5/11) buite die skool gekoop is nie.
“Die voorval is by die wetstoepassers aangemeld, wat nou ondersoek instel,” sê Geoffrey van der Merwe, provinsiale onderwyswoordvoerder. Die ondersoek is daarop gemik om die veiligheid van die produkte wat deur straathandelaars verkoop word te bepaal en om toekomstige voorvalle te voorkom.
Die kennisgewing wat deur die skoolhoof, Nicoleen Persence, aan die ouers gestuur is, het op sosiale media versprei. Daarin sê sy: “Hiermee rig ons ’n ernstige waarskuwing aan ouers om nie meer die skyfies vir hul kind te koop nie.
Twee wit pilletjies is in hierdie pakkie skyfies gekry. Foto: Facebook
“’n Leerder het by die skool sy pakkie oopgemaak en ons het twee wit pille in die pakkie gevind.”
Abraham Vosloo, LUR vir onderwys, beklemtoon intussen die belangrikheid om te verseker dat leerders slegs veilige kos eet. “Ons doen ’n beroep op ouers, voogde en skole om waaksaam te wees.
“Ons prioriteit is die gesondheid en veiligheid van ons leerders, terwyl ons gehalte- openbare onderwys bied.”
‘Die gesegde lui mos my kind is joune’
Sosialemediagebruikers het hul bekommernis uitgespreek. Chaps Paulsen sê “die buitelanders is niks snaaks meer nie.
“Dit sal goed wees as die plaaslike departement en leiers saamwerk en die winkels besoek om die snert te verwyder, want die gesegde lui mos my kind is joune.” Ander wil hê die skool moet die pille vir toetsing na ’n laboratorium te stuur.
“Ons het die pleidooi van gemeenskappe in ander dele van die land gesien met betrekking tot die dood van kinders as gevolg van voedselvergiftiging,” sê Vosloo. “Daarom doen ons ’n beroep op alle opvoedkundige belanghebbendes en die gemeenskap in die algemeen om te help om enige vorm van voedselvergiftiging onder kinders en leerders te bekamp.”
OFM Nuus mvh