On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes gesoek ná roof in Universitas

───   HEIDRÈ MALGAS 13:04 Mon, 04 Nov 2024

Verdagtes gesoek ná roof in Universitas | News Article
Die voertuig van die aanvallers is reeds opgespoor. Foto: Skermgreep

Die polisie het die eienaar van die donkergrys Mazda 3 geïdentifiseer en ’n soektog is van stapel gestuur ná die roof op ’n student in Universitas, Bloemfontein.

“Ten tye van die voorval was die voertuig by ’n paneelklopperwerkswinkel. Die eienaar van die motor, wat na bewering ’n werktuigkundige is, het sedertdien van sy besigheidsperseel gevlug,” sê Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.

Die polisie het intussen bevestig dat dit inderdaad ’n roof was nadat sosialemediagebruikers bespiegel het dat die voorval Sondag (3/11) moontlik ’n motorkaping was.

Die student was douvoordag te voet op pad huis toe toe die bestuurder van ’n donkergrys Mazda met Vrystaatse nommerplate langs hom stilhou. Op die video kan gesien word hoe ’n man aan die passasierskant uitklim, die student struikel en val, en ’n selfoon uit sy broeksak val.


Die verdagte probeer die selfoon optel, maar die klaer sit hom teë, sê Peter Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. Die bestuurder klim ook uit om sy makker te help.

Tydens die bakleiery val nog ’n foon uit die klaer se broeksak, dié keer sy eie.

Hulle kry dit eindelik reg om die student van albei selfone te beroof, klim in die voertuig en ry weg terwyl die student aan die bestuurder se deur vashou, maar ’n kort ent verder sy houvas verloor en val.

‘Die student is na die hospitaal geneem vir mediese behandeling’

Die Parkweg-polisie is oor die voorval ingelig en het die voertuig opgespoor in die Kgotsong-omgewing, 10 km suidoos van die middestad. Die polisie ondersoek sake van poging tot moord en gewone roof.

Die student is na die hospitaal geneem vir mediese behandeling en kort daarna ontslaan.

Kovsies se studenteraad (SR) veroordeel die voorval.

‘Die SR het die nodige steun aan hom belowe’

“In die lig van die onlangse voorval is dit noodsaaklik dat ons ons toewyding bevestig om veiligheid vir alle studente te verseker, veral tydens die eksamens wanneer studente voorberei en vroeg en laat op pad kampus of huis toe is, wat hul veiligheid in gevaar stel.”

Op besoek aan die student het die SR die nodige steun aan hom belowe, waar na hulle reëlings getref het om hom by te staan. Die raad werk nou saam met die UV se beskermingsdienste en plaaslike wetstoepassers om studente te beveilig.

Studente wat in gevaar verkeer, kan hier hulp kry:

  • Beskermingsdienste: 051 401 2911
  • Buitekampuskoppelingsbeampte: 078 960 4165
  • Excellent Sekuriteitsdienste: 061 869 0103
  • Studentberading en ontwikkeling: 051 401 2853

Enigiemand met inligting oor die roof kan kapt. David Ramasoala van Parkweg-polisie by 082 468 1624 bel, of 10111.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.