On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Stilfontein: Verwydering van zama-zamas begin glo Maandag

───   08:00 Sun, 24 Nov 2024

Stilfontein: Verwydering van zama-zamas begin glo Maandag  | News Article
Noodwerkers is onlangs gemagtig om 600 pakkies kitspap en bottels water aan duisende mense te stuur wat na bewering onwettig die Stilfontein-myn betree het. Foto: X

Vermeende onwettige mynwerkers wat weier om uit ’n verlate mynskag in Stilfontein te kom sal waarskynlik van Maandag (25/11) af na die oppervlak gebring word nadat die regering planne opgeskerp het om die ondergrondse netwerk te sluit.

Duisende zama-zamas wat vrees vir inhegtenisnemng bly ondergronds by ’n skag van die ou Buffelsfontein-goudmyn. Die Noordwes-wetgewer se komitee vir openbare veiligheid het dié Stilfontein-myn besoek waar die mynwerkers ondergronds vasgekeer is.

’n Polisie-operasie om onwettige mynbou te bekamp het ’n herrie veroorsaak weens die beweerde verhongering van mynwerkers, maar die polisie hou vol dat hulle binne die riglyne van die wet werk.

Die DA se Freddy Sonakile, die voorsitter van die Noordwes-wetgewer se portefeuljekomitee oor gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur (COSATMA), het die media namens die komitee toegespreek. “Tot dusver is meer as 1 400 mense uitgehaal. Oor die aantal mense wat nog binne is, kan ons nie praat nie want dit is deel van die ondersoek waaraan die polisie werk. Niemand kan sê wanneer die operasie sal eindig nie, maar dit begin wel Maandag.”

’n Gemeenskapsvrywilliger wat ondergronds gegaan het, het berig meer as 4 000 werkers is steeds in die verlate skag, maar die owerhede het die syfer betwis.

Mynreddingskundiges sal na verwagting Maandag begin om die mynwerkers uit te haal nadat hulle ’n tegnologiegedrewe risiko-evaluering gedoen het.

Die komitee is ingelig oor die hulpbron-intensiewe operasie, wat bykomende polisie-, nood- en weermagpersoneel, sowel as hulpbronne vereis. “Die polisie en almal wat hierheen kom, werk op ’n begroting wat reeds bestaan. Daar is geen spesiale begroting hiervoor opsy gesit nie.

“Ons gaan terug na die wetgewer, ons gaan ’n komiteevergadering met die tesourie en al die relevante belanghebbendes belê om die pad vorentoe te bespreek en te bepaal of ons die situasie as ’n ramp moet verklaar sodat ons bykomende befondsing en ondersteuning kan bekom,” het Sonakile gesê.

President Cyril Ramaphosa het die regering se verbintenis herbevestig om die gespanne situasie by Stilfontein deur middel van vreedsame en veilige maatreëls op te los.  

In sy weeklikse nuusbrief het die president die belangrikheid van die handhawing van menseregte en die bevordering van vrede beklemtoon te midde van die voortdurende stryd in die gebied. “As ’n land wat verbind is tot die oppergesag van die gereg en toegewy is aan die handhawing van almal se menseregte, sal ons voortgaan om te werk aan ’n vreedsame oplossing by Stilfontein,” het Ramaphosa gesê.

OFM Nuus cg


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.