On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Ma, kêrel van Bloemfontein wat kinders glo aanrand, laat vaar borgtog

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:37 Fri, 18 Oct 2024

Ma, kêrel van Bloemfontein wat kinders glo aanrand, laat vaar borgtog | News Article
Adriaan Cornelius Seriven (geel hemp) en Wendy Nel (rooi hemp). Foto: OFM Nuus

Die Bloemfonteinse vrou, haar kêrel en nog twee mense wat na bewering haar kinders aangerand het, bly in aanhouding nadat hulle hul borgtogaansoek laat vaar het.

Die vier beskuldigdes staan tereg op aanklagte van onder meer poging tot moord, aanranding met die opset om ernstig te beseer en kindermishandeling. Hulle word ook aangekla van kinderverwaarlosing en versuim om kindermishandeling aan te meld.

Die viertal van die voorstad Noordhoek se vermeende misdade het in September aan die lig gekom toe die ma haar tweejarige seun na die Pelonomi-hospitaal geneem en beweer het hy het geval, het kapt. Loranie Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, vroeër aan OFM Nuus gesê.

Die kleuter moes ’n noodoperasie ondergaan vir veelvuldige beserings, insluitend gekneusde oë, swelling en ’n lip wat tot by sy neus gespleet was.

Adriaan Cornelius Seriven (geel hemp) en Wendy Nel (rooi baadjie). Die kêrel (blou hemp) se naam mag nie bekend gemaak word nie. Foto: OFM Nuus

Die polisie is in kennis gestel, wat gelei het tot die inhegtenisneming van die ma (34), haar kêrel (24) en die egpaar wat by hulle inwoon, Adriaan Cornelius Seriven (35) en Wendy Nel (40). Die identiteit van die ma en haar kêrel word weerhou om die kinders te beskerm.

Nadere ondersoek het tot verdere aanklagte gelei wat met hul tweede hofverskyning (15/11) bygevoeg is. Hulle word nou ook daarvan aangekla dat hulle die seuntjie se susters (9 en 6), asook sy boetie (4) aangerand en verwaarloos het.

“Al vier kinders is tans in ’n plek van veiligheid,” sê Hester Bekker, die stigter van die Guardian and Angel- liefdadigheidsorganisasie in Bloemfontein.

’n Betroubare bron het aan OFM Nuus  vertel die ma het na bewering ook probeer om die negejarige in ’n bad te verdrink deur haar kop vir ’n lang tyd onder water te hou.

Betogers buite die hof. Foto: OFM Nuus

Landdros Ephraim Sebe het die verhoor tot 7 November uitgestel vir verdere ondersoek.

Tydens Donderdag se hofverrigtinge het kons. Anchen van Biljon van die eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe, gesê hulle is besig om deskundige verslae in te samel.

’n Groep betogers het buite die hof saamgedrom om die vrylating van die beskuldigdes op borgtog teë te staan.

Die kêrel se ma, wat in Engeland woon, het prokureur Greg Nel aangestel om hom te verteenwoordig terwyl die ander beskuldigdes deur Regshulp SA verteenwoordig word.

OFM Nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.