On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Vermeende moordenaar in Bloemfontein vasgetrek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:42 Thu, 10 Oct 2024

Vermeende moordenaar in Bloemfontein vasgetrek | News Article
Gericke van der Westhuizen. Foto: Facebook

’n Moordverdagte, wat in September op borg vrygelaat is en hom toe uit die voete gemaak het, is opnuut in hegtenis geneem.

Gericke van der Westhuizen (40) is Woensdag (9/10) met die Valke se hulp in Bloemfontein aangekeer nadat hy versuim het om Maandag in die hooggeregshof in Pretoria te verskyn, sê Mojalefa Senokoatsane, NVG-streekswoordvoerder.

“Die regter het ’n lasbrief vir Van der Westhuizen se inhegtenisneming uitgereik ingevolge waarvan hy sy borgtog van R5 000 sou verbeur het as hy nie voor 21 Oktober opgespoor sou word nie.”

Van der Westhuizen, die enigste van drie beskuldigdes in die moord op Dumisani Phakathi wat borgtog gekry het, is blykbaar in ’n winkel in Bloemfontein in hegtenis geneem nadat ’n klant hom herken het. Hy het sy borgtogvoorwaardes oortree deur nie Maandag in die hooggeregshof te verskyn nie, sê Senokoatsane.


Sy medebeskuldigdes, Louis Coetzee (48) en Jaco Kemp (46), word sedert September verlede jaar aangehou. Hulle sal ook Maandag in die hof verskyn en dan weer op Vrydag 18 Oktober.

Phakathi het op 17 September verlede jaar water op ’n plaas naby Brits gaan haal, sê Senokoatsane. Hy is noodlottig aangerand. Polisiebeamptes het ure later tydens ’n roetinepatrollie op sy liggaam afgekom.

‘Staat se saak versterk omdat hulle met die liggaam betrap is’

Sy liggaam is versteek gevind onder plastieksakke agterop Van der Westhuizen se NP 200-bakkie nadat polisiebeamptes snuf in die neus gekry en ondersoek ingestel het. Kemp en Coetzee is op die toneel in hegtenis geneem.

Van der Westhuizen het hom later aan die polisie oorgegee en is borgtog van R5 000 toegestaan. Senokoatsane sê Kemp en Coetzee is borgtog geweier ná ’n lang regstryd in die landdroshof op Brits. Die staatsaanklaer het volgehou die staat se saak word versterk deur die feit dat hulle met die liggaam betrap is.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.