On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Verdagtes maande ná plaasaanval in Vrystaat vasgetrek

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:17 Thu, 19 Sep 2024

Verdagtes maande ná plaasaanval in Vrystaat vasgetrek | News Article
Die vier vermeende aanvallers het ’n veiligheidshek by ’n plaas naby Ladybrand oopgedwing. Foto: OFM

“Een van die aanvallers het die manlike slagoffer op die kop geslaan, en hy en sy vrou (65 en 66), is met lakens vasgebind en geblinddoek.”

Twee mans, wat ’n maand ná  ’n gewelddadige plaasaanval in die Vrystaat in hegtenis geneem is, sal na verwagting Maandag (23/9) in die hof verskyn.

Die verdagtes, wat met die voorval in die distrik Ladybrand verbind word, het reeds vooraf in die Botshabelo-landdroshof verskyn, sê lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder. “Tshepo Janie Makhubo en Thapelo Edward Mohloboli is Saterdag (14/9) op afsonderlike plekke deur die Botshabelo-polisietaakspan in hegtenis geneem. Verskeie items wat vermoedelik gesteel is, is ook teruggevind.”

Volgens Covane het die inhegtenisnemings gevolg op polisiepogings Saterdag nadat ’n wenk ontvang is oor ’n man wat na bewering ’n ongelisensieerde vuurwapen besit. “Die span het aanvanklik op ’n drankwinkel in Botshabelo toegeslaan, waar die verdagte met ’n Taurus-rewolwer en ammunisie gevind is. Hy is op die plek in hegtenis geneem.”

Hierna het die polisie op bykomende inligting gereageer en ’n klopjag by ’n huis uitgevoer waar hulle nog ’n verdagte in hegtenis geneem het en op twee vuurwapens, 9 mm-patrone en ander ammunisie beslag gelê het.

Covane sê die owerhede het ook beslag gelê op verskeie items, insluitend goud, silwer en pêreljuwele, asook twaalf bokse vloerteëls en sakke teëlsement of -gom, wat alles vermoedelik gesteelde eiendom is.

“Makhubo en Mohloboli staan nou tereg op aanklagte wat verband hou met die onwettige besit van vuurwapens, ammunisie en vermoedelik gesteelde goedere.”

Die ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagtes met ’n plaasaanval in Mei verbind word, waartydens vier aanvallers ’n veiligheidshek by ’n plaas naby Ladybrand oopgedwing het.

OFM Nuus het vroeër berig oor een van die aanvallers wat die manlike slagoffer op die kop geslaan, en beide hy en sy vrou (65 en 66) is met lakens vasgebind en geblinddoek.

Tydens die aanranding het die aanvallers die sleutels van ’n kluis geëis, en uiteindelik elf vuurwapens gesteel, insluitend haelgewere en ’n rewolwer, voordat hulle in ’n bussie met die gesteelde wapens en ander huishoudelike items gevlug het. Albei slagoffers het kop- en armbeserings opgedoen.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.