On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Boer wat honde skiet se saak heropen

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:47 Thu, 19 Sep 2024

Boer wat honde skiet se saak heropen | News Article
Probleme met onwettige wildstropers het buite beheer geraak. Foto: iStock

“Die saak teen Kleynhans is in Maart verlede jaar van die rol geskrap, maar is nou skielik heropen, en hy is ingelig dat hy binnekort weer in die hof moet verskyn op ’n aanklag van poging tot moord.”

Die hernude vervolging van ‘n Vrystaatse boer word bevraagteken, sowel as die motiewe van die staat. 

Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier, is verbaas dat Piet Kleynhans weer vervolg gaan word oor ’n voorval drie jaar gelede. Hy is destyds in hegtenis geneem nadat hy skote op die honde van ’n groep onwettige betreders en jagters op sy plaas afgevuur het.

“Die saak teen Kleynhans is in Maart verlede jaar van die rol geskrap, maar is nou skielik weer heropen en hy is ingelig dat hy binnekort weer in die hof moet verskyn op ’n aanklag van poging tot moord,” sê Van Niekerk.

Jan van Niekerk. Foto: Facebook

Luidens ’n mediaberig is hy ook ingelig dat daar moontlik verdere klagte teen hom aanhangig gemaak kan word.

Volgens Van Niekerk word die landbougemeenskap van die Vrystaat toenemend geteiken deur bendes wat onwettig op landbougrond jag en wild aan wrede en onmenslike jagpraktyke onderwerp. “Hierdie ‘jagters’ laat honde los op bokke en ander wild en die diere word in baie gevalle lewend verskeur.”

‘Boere voel hulle word aan hul eie lot oorgelaat’

Hy sê soos vele ander boere het Kleynhans volgens hom verskeie klagte oor hierdie onwettige aktiwiteite ingedien, sonder enige daadwerklike optrede. “Boere voel dat hulle grootliks aan hul eie lot oorgelaat word.”

Van Niekerk sê die VF Plus het met eie ondersoeke gevind dat hierdie bendes nie net vir sport onwettig jag nie, maar klaarblyklik ook groot bedrae geld wed oor wie die meeste wild in die kortste tyd kan vang. “Die probleem het só buite beheer geraak dat boereverenigings nou gedwing word om kennisgewings op te sit teen onwettige jagpraktyke op hul plase.

Jabu Mbalula. Foto: Facebook

“Hierdie voortgesette vervolging van ’n wetsgehoorsame boer wat sy eiendom beskerm het teen wettelose bendes, is onaanvaarbaar.”

Volgens van Niekerk sal die VF Plus daarop aandring dat die LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer in die Vrystaat, Jabu Mbalula, terugvoer gee oor sy onlangse vergaderings met georganiseerde landbou waar veediefstal hoog op die agenda was.

Almal mag hulself beskerm

“Dit is noodsaaklik dat die bedreiging van onwettige jag as ’n ernstige krisis in hierdie besprekings ingesluit word.

“Almal in Suid-Afrika het ingevolge die Grondwet die reg om hulself en hul eiendom te beskerm. Indien die betrokke polisielede in hierdie geval hul werk behoorlik gedoen  en opgetree het teen die onwettige stropers, sou die probleem in die eerste plek nie ontstaan het nie,” meen Van Niekerk.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.