On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Goudveldse prediker, vrou weer in hof ná hond se wrede dood

───   HEIDRÈ MALGAS 04:53 Thu, 19 Sep 2024

Goudveldse prediker, vrou weer in hof ná hond se wrede dood | News Article
’n Aanrandingsaak op die eienaar van Leo, Tanya Sanders, is ook bygevoeg. Foto verskaf

“Die oom het die leiband getrek en Leo begin verwurg. Toe gebeur die res.”

’n Prediker en sy vrou het Woensdag (18/9) in die Odendaalsrus-landdroshof verskyn in verband met die wrede dood van ’n hond op dié Goudveldse dorp. Die saak is uitgestel tot volgende Woensdag (25/9). 

Past. Andries Jeremiah Labuschagné en sy vrou, Reinette (Nettie), se borgtog is geweier en die paartjie bly in aanhouding. ’n Aanrandingsaak op die eienaar van die hond is ook bygevoeg.

Labuschagné en sy vrou word aangekla van dieremishandeling nadat hy die boelterriër Leo verskeie kere met messe gesteek het, asook van die aanranding op die boelterriër se eienaar, Tanya Sanders.

Tanya Sanders en Leo. Foto verskaf

“Ons was goeie bure. Daar was ‘n palissadeheining tussen ons woonstelle. Hulle het Leo elke dag lekkernye gegee en gevryf. Dit was mense wat Leo geken het, daarom was dit vir my vreemd toe Andries so optree,” sê Sanders.

“Leo was vir ’n rukkie by my eksman omdat die erf van ons woonstel te klein geword het. Ek het hom gaan haal omdat die eienaar van ons woonstelle hom na sy plaas toe wou neem – dieselfde dag wat alles gebeur het. Hy het gesê Leo moet in die erf bly waar hy was.”

Sy sê ”die oom wat die opsigter was, het daarop aangedring dat Leo na ‘n ander erf geskuif word”. Leo is groot en daarom het sy vir die eienaar van die woonstelle gesê dat sy Leo sal kom haal. 

Leo was skaars by die hek uit toe hy begin rondhardloop. “Die oom het die leiband getrek en Leo begin wurg. Toe gebeur die res.”

Labuschagné het na bewering Leo met ’n tou probeer verwurg. “Toe die tou nie werk nie, het Andries vir Reinette gevra om ’n mes te gaan haal om Leo te steek,” beweer Thea Smit, voorsitter van die DBV op Virginia.

Dit het alles gebeur terwyl Leo se eienaar bo-op hom gelê het om hom te beskerm en gesmeek het dat sy lewe gespaar word.

Sanders het ook ’n tatoeëermerk van Leo gekry. Foto verskaf

“Ek hanteer dit nie goed nie. Ek sukkel emosioneel en sal ordentlike berading moet kry oor alles. As ek in ’n winkel is en mense herken my, dan raak ek benoud,” sê Sanders.

“Leo was ‘n besige hond. Hy het geluister as ons praat en was vrot bederf.”

Leo is Dinsdag (17/9) begrawe.

OFM Nuus/Heidré Malgas cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.