On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Pastoor, vrou hof toe oor wrede dood van boelterriër

───   HEIDRÈ MALGAS 12:37 Tue, 10 Sep 2024

Pastoor, vrou hof toe oor wrede dood van boelterriër  | News Article
Die boelterriër Leo wat deur ’n pastoor en sy vrou doodgesteek is. Foto verskaf

“Andries het glo eers probeer om Leo met ’n tou te verwurg … en toe vir Reinette gevra om ’n mes te gaan haal om Leo te steek.”

’n Prediker en sy vrou moet weer volgende week in Odendaalsrus se landdroshof verskyn in verband met die wrede dood van ’n hond op dié Goudveldse dorp.

Past. Andries Jeremiah Labuschagné en sy vrou, Reinette (Nettie), bly in aanhouding tot volgende Woensdag (18/9) nadat hulle die afgelope Woensdag (4/9) in hegtenis geneem is kort ná die voorval omstreeks 10:00, waarin die boelterriër Leo doodgemaak is.

Labuschagné is die opsigter van woonstelle op ’n sakeperseel op die dorp waar Leo se eienaar ook woon, sê Thea Smit, voorsitter van die DBV op Virginia. “Leo het vir een dag soontoe gekom. Hy sou die volgende dag na ’n plaas geskuif het.”

Skermgreep van die voorval. Foto verskaf

Volgens Smit het die opsigter by die eienaar aangedring dat die boelterriër in ’n leë eenheid gehou moes word en nie in die woonstelle kon oornag nie. Die eienaar het ingestem en gesê sodra iemand sterk genoeg beskikbaar is om die hond te hanteer, sou hulle hom na die eenheid toe neem.

“Die opsigter het geweier,” beweer Smit, “en het toe natuurlik sy wil begin afdwing … en toe met ’n tou daar ingestorm en Leo uit die erf begin uittrek. Sy’t probeer keer. Sy was alleen.”

Labuschagné het Leo na bewering met ’n tou probeer verwurg. “Toe die tou nie werk nie, het Andries vir Reinette gevra om ’n mes te gaan haal om Leo te steek,” beweer Smit. Dit alles het gebeur terwyl Leo se eienaar bo-op hom gelê het om hom te beskerm en gesmeek het om sy lewe te spaar.

Past. Andries Jeremiah Labuschagné en sy vrou, Reinette (Nettie), bly in aanhouding tot volgende Woensdag (18/9). Foto: Facebook 

“Reinette het die mes gaan haal en Andries het herhaaldelik vir Leo daarmee gesteek – in sy lyf, sy kop en sy mond,” beweer Smit. “Een mes was nie genoeg vir Andries nie, en Reinette het toe nog ’n mes gaan haal.”

Iemand het ’n video geneem van die voorval wat nou die ronde doen op sosiale media, wat talle gebruikers die hoenders in maak.

‘Wreedheid teenoor diere gekoppel aan ander kriminele aktiwiteite’

“Die gemeenskap móét in oproer wees,” meen Smit, “want ons weet en dit is al bewys dat wreedheid teenoor diere direk gekoppel word aan ander kriminele aktiwiteite … Daarom voel ons dat geregtigheid vir Leo moet geskied en dat ’n gepaste vonnis opgelê moet word.

“Ons wil hê dat almal saam moet praat vir Leo; reg en geregtigheid moet geskied. Hy is wreed doodgemaak vir die eenvoudige rede dat hy nie saam met ’n vreemdeling wou gaan nie.”

Leo op sy eerste verjaardag, waar hy 'n sny sjokaladekoek geniet het. Foto: Facebook

Sy sê vir die DBV is dit “onaanvaarbaar”. “Ek wil verskriklik dankie sê aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens op Odendaalsrus wat die DBV op Virginia bygestaan het om die twee beskuldigdes vinnig in hegtenis te neem.”

Intussen sê die privaat speurder Mike Bolhuis hierdie tragiese gebeurtenis is nie ’n geïsoleerde geval nie. Dis net dat talle soortgelyke voorvalle nie aangemeld word nie. Hy en sy span “is toegewyd daartoe om die mense van Suid-Afrika te laat weet dat ons diep omgee vir diere”.

Bolhuis en sy span is deur die owerheid en die DBV genader om hulle te ondersteun ná die “brutale moord” op Leo en is betrokke by die projek Justice for Leo. “Ons is vasbeslote … om op te staan vir diere, (magtelose) diere te verdedig en namens hulle op te tree om te verseker dat geregtigheid geskied.”

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.