On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Wilgehof-moord: verdagtes bly in aanhouding

───   ZENANDE MPAME 16:20 Mon, 02 Sep 2024

Wilgehof-moord: verdagtes bly in aanhouding | News Article
Wilgehof-moord: verdagtes bly in aanhouding. Van links: Mpheng Ntsoeu (28) en Katlego Moroe (23). Foto: Zenande Mpame

“Die twee verdagtes is in aanhouding vir verdere ondersoeke.”

’n Jaar ná die moord op drie familielede in Wilgehof, Bloemfontein, het twee verdagtes Maandag (2/9) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn op aanklagte van moord en roof. 

Mpheng Ntsoeu (28) en Katlego Moroe (23) staan tereg op drie aanklagte van moord, drie van roof en een oortreding van die Immigrasiewet, wat deur binnelandse sake bevestig moet word.

Die twee bly in aanhouding tot hulle na verwagting Maandag (9/9) om bortog aansoek sal doen terwyl die ondersoek intussen voortduur.

Mpheng Ntsoeu (28) en Katlego Moroe (23) praat aanmekaar by die hof. Foto: Zenande Mpame

“Die twee verdagtes (23 en 28) is Vrydagoggend (30/8) deur die Mangaung Metro Trio-taakspan in JB Mafora, Bloemfontein, in hegtenis geneem ná maande se intensiewe ondersoeke,” sê Lorraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

“Die liggame van Betsie Kruger (dagsorgma/eienaar), haar dogter Janine, en skoonseun Christo Theron is verlede Junie in die huis gevind waar Kruger ’n dagsorgsentrum bedryf het.”

Die drie slagoffers is vasgebind, aangerand, van verskeie items beroof en vermoor. Die waarde van die gesteelde items beloop sowat R145 000.

Ntsoeu was in diens van die dagsorgsentrum en het na bewering haar kêrel, Moroe, ingelaat. Die twee is deur selfoontorings met die moorde verbind en deur geld wat uit die bankrekeninge van die oorledene na die beskuldigde oorgeplaas is.

OFM Nuus het vroeër berig die ondersoek duur al langer as ’n jaar. Private speurder Mike Bolhuis en sy ondersoekspan het sedertdien gehelp. Sy span het in September verlede jaar vyf verdagtes geïdentifiseer wat na bewering by die moorde betrokke was.

Lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris, het die toewyding van die Mangaung Metro Trio-taakspan geloof en waardering betuig vir hul uitsonderlike werk “om hierdie betekenisvolle deurbraak” in die driedubbele moordsaak te maak.


“Ná maande van inligting opvolg, konkrete bewyse voorberei en onvermoeide werk agter die skerm, het die inhegtenisnemings nie net verligting vir die betrokke families gebring nie, maar ook die vertroue versterk … wat die gemeenskap in ons polisie moet hê,” meen sy.

OFM Nuus/Zenande Mpame mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.