On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Droogte kan Noord-Kaap se halfmens laat uitsterf

───   13:48 Thu, 29 Aug 2024

Droogte kan Noord-Kaap se halfmens laat uitsterf | News Article
Die vetplant is inheems aan die dorre, klipperige berge van die Richtersveld in die Noord-Kaap en Suid-Namibië. Foto: Willie Solomon

“Dit beteken baie vir ons mense omdat ons voorvaders ons van die halfmense vertel het.”

’n Plantkundige van die Richerstveld-oorgrenspark in die Noord-Kaap is volgens die SAUK bekommerd dat die ikoniese halfmens, wat net in die Richtersveld en dele van Namibië voorkom, weens klimaatsverandering en voortdurende droogtes kan uitsterf.

Ná ’n droogte wat van 2016 tot 2022 in die noordwestelike uithoek van die Noord-Kaap geheers het, het die voorkoms van die Pachypodium namaquanum, of halfmens, met meer as 80% afgeneem. Nog ’n droogte kan glo die hele spesie uitwis.

Die eienaardige halfmens, ook bekend as ’n dikvoet, noordboompie of noordkyker, is ’n stamsukkulent wat net in Suider-Afrika voorkom. Die genusnaam Pachypodium is Grieks vir “dikvoet”, wat sinspeel op sy stewige basis, terwyl die spesienaam Namaquanum ’n verwysing na Namakwaland is.

Die vetplant is inheems aan die dorre, klipperige berge van die Richtersveld in die Noord-Kaap en Suid-Namibië.

“Hulle is uiters belangrik, veral vir die Namas, vanweë die verhale daaroor, en dit is ’n spesie waarvan letterlik elke mens in die streek weet – van ’n klein kind tot ’n bejaarde persoon,“ sê Piet van Wyk, die oorgrenspark se plantkundehoof. “Weens daardie enkele droogte en bogemiddelde temperature wat ons in hierdie streek ervaar het, het meer as 80% van al die halfmensplante gevrek.” 

‘Die spesie se status is verlede jaar verander na kritiek bedreig’

Daarom is die spesie se status, wat voorheen die minste kommer op die Suid-Afrikaanse én die internasionale lyste veroorsaak het, verlede jaar verander na kritiek bedreig. Nog net een droogte, en die hele spesie kan uitgewis word,

Klimaatsverandering is die rede waarom die haflmens bedreig word, sê hy, “want ons weet nou die afgelope tien jaar het die temperature in die Richtersveld gemiddeld met tussen 4,1 en 4,2 °C gestyg, en dit is net te veel vir die spesie om te hanteer.”

Van Wyk sê onwettige verwydering deur versamelaars hou ook ’n groot bedreiging vir die spesie se voortbestaan in. Tensy die nodige sertifikate en permitte bekom is, mag dié plante nie verhandel word nie.

“Dit beteken baie vir ons mense omdat ons voorvaders ons van die halfmense vertel het,” vertel Leana Jaara van die Namagemeenskap oor die belangrikheid van die plant.

Volgens oorlewering ontleen die Richtersveld-halfmense sy naam aan die voorouers van die Namagemeenskap, wat deur oorstromings of oorlogsugtige stamme uit die noorde suidwaarts verdryf is. Sommige het omgedraai om terug te kyk oor die Oranjerivier en is in halfmense verander, wat vir ewig noordwaarts kyk; vandaar ook die naam noordkyker.

OFM Nuus cg/mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.