On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Gerben
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret, John and Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaat het agterstand van meer as 5 000 operasies

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:36 Wed, 14 Aug 2024

Vrystaat het agterstand van meer as 5 000 operasies | News Article
Foto ter illustrasie: iStock

“Gebrek aan ortopediste in streekhospitale oor die provinsie heen, tesame met onvoldoende verpleeg- en teaterpersoneel, het die situasie verder vererger.”

Die agterstand van mediese prosedures in die Vrystaat het die afgelope twee jaar byna verdubbel, grootliks weens die hoë voorkoms van traumagevalle.

Monyatso Mahlatsi, LUR vir Gesondheid, het dié stelling gemaak in antwoord op skriftelike vrae van Armand Cloete, Vrystaatse VF Plus-wetgewerlid. “Weens die meer as 5 075 vertraagde operasies is die situasie baie kommerwekkend vir die VF Plus,” sê hy.

“Die LUR het verskeie faktore erken wat tot die agterstand bydra, waaronder ’n groot aantal traumagevalle in sekere gebiede van die Vrystaat, beperkte teaterkapasiteit, gereelde chirurgiese noodgevalle en ’n tekort aan beskikbare beddens.”

Armand Cloete, Vrystaatse VF Plus-wetgewerlid. Foto: X

’n Gebrek aan ortopediste in streekhospitale oor die provinsie heen, tesame met onvoldoende verpleeg- en teaterpersoneel, het die situasie verder vererger. Daarbenewens het baie gebiede ’n gebrek aan oogkundiges wat die meeste pasiënte dwing om na Bloemfontein verwys te word.

Mahlatsi het planne genoem om die agterstand uit te wis, byvoorbeeld ’n katarakveldtog en ortopediese “marathon-operasies”. Cloete het daarop gewys dat die Universitas-hospitaal in Bloemfontein ’n agterstand van 2 962 prosedures het, die Pelonomi-hospitaal 596, die Dihlabeng-hospitaal op Bethlehem 629, die Bongani-hospitaal in Welkom 523 en die Boitumelo-hospitaal op Kroonstad 340.

Wagtyd vir prosedures tot vyf jaar

In September 2022 het dr. Joe Phaahla, voormalige Minister van Gesondheid, aangedui dat die Vrystaat ’n agterstand van 2 947 operasies het. Wat veral kommerwekkend is, sê Cloete, is dat die LUR erken het dat die wagtyd vir ortopediese prosedures tot vyf jaar kan wees, terwyl pasiënte wat algemene operasies nodig het, byna twee jaar kan wag.

Hy voeg by die LUR het ook erken ’n tekort aan verpleegpersoneel en ondoeltreffendheid in die gesondheidsdepartement se verkrygingsprosedures belemmer ginekologiese dienste. “Tans maak 66% van (Vrystaters) staat op openbare gesondheidsdienste.”

Die Pelonomi-hospitaal het 'n agterstand van 596 prosedures. Foto: Bloemfontein Courant

Cloete waarsku dat die agterstand kan vererger as die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in die Vrystaat in werking gestel word wat almal dwing om op staatshospitale en -klinieke staat te maak. Die VF Plus beoog om druk uit te oefen op die wetgewer se portefeuljekomitee oor gesondheid om ’n duidelike plan van die departement te eis oor hoe hy beoog om hierdie agterstande die hoof te bied.

“Dit is onaanvaarbaar dat pasiënte se regte op gehalte-gesondheidsorg en waardigheid in gedrang kom weens onnodig lang wagtydperke,” sê Cloete.

OFM Nuus/Charne van der Merwe mc/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.