On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Polisie slaan toe op paramilitêre basis by Witrivier

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:37 Fri, 26 Jul 2024

Polisie slaan toe op paramilitêre basis by Witrivier | News Article
Foto: SAPD

“Wat aanvanklik na ’n oefenterrein gelyk het, is blykbaar in ’n onwettige militêre opleidingsbasis omskep.”

Altesaam 95 Libiese burgers is Vrydag (26/7) in Mpumalanga op ’n beweerde paramilitêre opleidingsbasis in hegtenis geneem.

Die klopjag is deur die polisie, in samewerking met die provinsiale gesamentlike operasionele en intelligensiestrukture, die Departement van Binnelandse Sake en die polisie se intelligensiedienste uitgevoer, sê brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, verseker Suid-Afrikaners ’n deeglike ondersoek sal uitgevoer word na bewerings dat die Libiese burgers militêre opleiding ontvang het.

‘Die Libiërs is aangetref met militêre opleidingstoerusting’

Volgens Mathe is genl.maj. Zeph Mkhwanazi, Mpumalanga se waarnemende polisiekommissaris, en die multidissiplinêre span saamgestel, nadat hy inligting ontvang het oor ’n beweerde militêre opleidingsbasis by Witrivier.

“Tydens Vrydag se klopjag op die plaas het ’n span onder leiding van polisiespeurders die Libiërs aangetref wat in militêre tente gehuisves is, met militêre opleidingstoerusting, insluitend gelisensieerde vuurwapens, op die terrein.

“Wat aanvanklik na ’n oefenterrein gelyk het, is blykbaar in ’n onwettige militêre opleidingsbasis omskep. Die Libiese burgers wat in hegtenis geneem is, word tans ondervra,” sê Mathe, en voeg by dat die polisie ook dagga en kokaïen ontdek het. “Ander dwelms wat in hul besit gevind is, is na ons forensiese laboratorium in Pretoria gestuur vir ontleding.”

‘Die polisiediens werk nou saam met binnelandse sake’

Mathe beklemtoon die belangrikheid van veiligheid en sekuriteit. “Die polisiediens bly daartoe verbind om beslissend op te tree teen oorgrens- georganiseerde misdaad. Ons neem enige bedreiging vir die veiligheid en stabiliteit van ons provinsie en land baie ernstig op.”

Masemola loof die intelligensiegedrewe operasie, wat gelei het tot die klopjag deur ’n multidissiplinêre span, insluitend speurders en spesialiseenhede van die polisie, en sê die moontlikheid dat die plaas as ’n onwettige militêre oefenkamp gebruik word, kan nie uitgesluit word nie.

“Die polisiediens werk nou saam met die Departement van Binnelandse Sake om vas te stel hoe hierdie (buitelanders) hul visum bekom het,” sê Mathe.

Die ondersoek duur voort.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.