On Now
Weekends 20:00 - 23:59
The Music Man Mix The Music Man
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Sentraal se sinkgat steeds ’n kopseer

───   ZENANDE MPAME 11:15 Fri, 26 Jul 2024

Sentraal se sinkgat steeds ’n kopseer | News Article
’n Gedeelte van die ondergrondse kanaal se plafon het ineengestort. Foto verskaf

“Die gat is steeds daar, maar die munisipaliteit se kontrakteurs is besig.”

’n Jaar en vier maande ná die verskyning van die sinkgat op die sportterrein van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein is die gat steeds daar, maar herstelwerk is darem aan die gang.

Die sinkgat is veroorsaak deur ’n ineenstorting van ’n gedeelte van die ondergrondse kanaal se plafon in Dan Pienaar, wat toe ’n sinkgat onder ’n rugbyveld van die skool geskep het. Die sinkgat het op Saterdag 11 Maart 2023 verskyn, en die sperdatum vir die voltooiing van herstelwerk was Junie vanjaar.

‘Die gat is wyer oopgemaak om vas te stel wat dit veroorsaak het’

“Voordat die munisipaliteit kontrakteurs na die skool gestuur het, het Raubex gehelp om die terrein te beveilig,” vertel Gerda Spies, Sentraal-woordvoerder. Die sinkgat is steeds daar en die munisipaliteit se kontrakteurs is steeds besig.

“Die gat is wyer oopgemaak om vas te stel wat dit veroorsaak het. Ongelukkig kan ons nie die veld gebruik om te speel of te oefen nie, en dit beïnvloed die tipe toernooie wat ons kan aanbied weens die beperkte velde wat beskikbaar is.”


Die gebied is afgesper en toepaslike veiligheidsmaatreëls is getref, sê Howard Ndaba, Vrystaatse onderwyswoordvoerder. “Toe die departement die terrein besoek het, is ’n assessering gedoen en daar is vasgestel dat die oorsaak van die sinkgat die munisipale stormwaterdreineringstelsel was.

“Goeie vordering word gemaak met die toemaak van die sinkgat.”

Die DA het die Mangaung-metro gekritiseer vir sy trae reaksie nadat die sinkgat by die skool verskyn het. “Die ANC-beheerde munisipaliteit het jare lank die instandhouding van en verbeterings aan die stormwaterstelsel afgeskeep.

Die gat is wyer oopgemaak om vas te stel wat dit veroorsaak het. Foto verskaf

“Benewens die periodieke oorstromings in talle streke as gevolg hiervan, vererger die nalatigheid ook die toestand van die padinfrastruktuur,” meen Werner Pretorius, Vrystaatse DA-wetgewerlid.

Die sinkgat het gevorm net ’n dag nadat die skool talle spanne van Bethlehem se Hoërskool Witteberg by ’n interskolesportdag as deel van ’n reeks gehuisves het.

‘Kommer oor stormwaterkanaal wat moontlik verder kan ineenstort’

Die DA het in ’n verklaring gesê hy is bekommerd oor die stormwaterkanaal wat moontlik verder by die skool kan ineenstort. Dit kan daartoe lei dat die kanaal verstop raak, wat ’n risiko vir menselewens én eiendom inhou.

OFM Nuus het ’n navraag gerig aan Qondile Khedama, metrowoordvoerder, maar tot dusver is geen reaksie ontvang nie.

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.