On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

NG gemeente op Parys loop deur onder inbrekers

───   ZENANDE MPAME 15:40 Thu, 25 Jul 2024

NG gemeente op Parys loop deur onder inbrekers | News Article
Die kerkklok is deur inbrekers gesteel. Foto: Parys Gazette

“Die skade is ontdek toe dit Saterdagoggend oopgesluit is om skoon te maak vir Sondag se diens.”

Die NG Gemeente Schonkenville by Parys is twee keer in ’n week beroof deur inbrekers, wat die kerkklok en waterpype gesteel en elektriese bedrading uitgeruk en die toilette beskadig het.

Die gemeente doen ’n beroep op enigiemand wat inligting oor die verdagtes kan hê, om asseblief by die Tumahole-polisiekantoor aan te meld aangesien hulle ’n saak daar geopen het. 

Die eerste inbraak was Dinsdag (16/7) toe die rowers deur die dak van die kerkgebou ingekom het. Hulle het Vrydag (19/7) teruggekeer, hierdie keer deur ’n venster.

Die rowers het die badkamers beskadig. Foto: Parys Gazette

“Die kerkklok is ’n paar weke gelede gesteel. Ons het dit nie agtergekom nie,  want ons lui dit nie op Sondae nie, net wanneer ’n lidmaat sterf om ons gemeente in kennis te stel,” sê ds. Pierre Guillaume.

“Toe ons Woensdag (17/7) kerk toe is, het ons gevind dat iemand deur die vensters by die toilette ingegaan het en van daar af by die plafon in. Hulle kon nie die wasbak uitkry nie, maar die waterpype was so beskadig dat water deur die nag oor die kombuisvloer en in die kerk ingestroom het.

“Van daar af het hulle deur die plafon gebreek en die elektriese bedrading op die plafon en enige elektriese drade in die kerk gesteel. Hulle het ook die kopertoebehore van die vensters gesteel,” vertel die gemeente se predikant.

Kerkklokke iword van koper vervaardig, wat dit 'n hoë risiko maak om deur koperkabeldiewe gesteel te word. Foto: freepik.com

Kerkklokke word vervaardig van 80% koper en 20% tin, wat hulle ’n hoë risiko maak om deur koperdiewe gesteel te word.

Die uitgebreide gebruik van koper het ’n styging in pryse veroorsaak wat dit aanloklik vir misdadigers maak. Boonop maak die feit dat koper hoogs sigbaar, maklik toeganklik, swak beveilig en taamlik maklik om te steel en verkoop dit ’n teiken vir boosdoeners

’n Opswaai in die wêreldwye koperprys tussen April 2020 en Junie 2021 het die kommoditeitsprys meer as verdubbel. Dit het ’n “ongekende styging in koperdiefstal oor Suid-Afrika se netwerke aangevuur, wat gesien het hoe honderde kilometers se koperkabel gesteel is,” sê Corruption Watch.

‘Hou dele goed belig waar koper sigbaar is’

Kenhall Loodgieters gee raad oor hoe om te verhoed dat koper van jou eiendom gesteel word: 

• Hou dele goed belig waar koper sigbaar is;

• Beveilig dele met bykomende heinings of hekke om maklike toegang te voorkom;

• Installeer ’n kleurbindmetaalbedekking oor koper waar moontlik;

• Koperverf verminder die waarde daarvan en kan as ’n afskrikmiddel vir sommige diewe dien; en

• Gee aandag aan vakante eiendomme aangesien dit maklike teikens is.

Geen inhegtenisneming is nog gemaak nie en die ondersoek duur voort.

OFM Nuus/Zenande Mpame mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.