On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Westdene-kuierplek se dranklisensie opgeskort ná moord

───   HEIDRÈ MALGAS 14:34 Thu, 25 Jul 2024

Westdene-kuierplek se dranklisensie opgeskort ná moord | News Article
Foto: Heidré Malgas

“Tot en met die verhoor sal hulle nie toegelaat word om handel in drank te dryf nie.”

Die Vrystaatse Dobbel-en-drankraad (VSDDR) het die lisensie van die Bloemfonteinse kuierplek naby die toneel waar ’n man Maandag (22/7) noodlottig aangerand is, tydelik opgeskort.

’n Tweede verdagte is Donderdag (25/7) in hegtenis geneem in verband met die moord op in ’n verlate parkeerterrein oorkant The Other Venue in Tweedelaan, Westdene.

Die oorledene is steeds nie geïdentifiseer nie.

Lefa Kalane, waarnemende uitvoerende hoof van die VSDDR, sê hulle het Donderdag (25/7) op The Other Venue toegeslaan ná die aanranding Maandag. 

“Ons het hierheen gekom weens die voorval wat Maandagoggend gebeur het. Die besluit van (die raad), as die owerheid wat lisensies uitreik, is om kragtens Artikel 117 van die Drankwet The Other Venue se dranklisiensie onmiddellik tydelik op te skort.

“Dit sal wees om die nodige prosesse deur die polisie en ons kollegas by die raad te volg. Ons skort dus hierdie lisensie op. Hulle word nie toegelaat om handel te dryf vir 14 dae nie. Hulle sal dan na die VSDDR ontbied word rekenskap te gee sodat ons kan besluit of hulle met handel kan voortgaan of nie. Tot en met die verhoor sal hulle egter nie toegelaat word om handel te dryf nie,” sê Kalane.

Sosiale media gons intussen nadat ’n video opgeduik het wat wys hoe vermeende uitsmyters ’n man aanrand. Twee verdagtes is intussen in hegtenis geneem vir die moord op die man wat aangerand en gevind is in ’n parkeerterrein oorkant kuierplekke in Tweede Laan. Die slagoffer se identiteit is nog onbekend.

“Die oorledene was tydens die aanval in die geselskap van ’n ander man, wat daarin geslaag het om te ontsnap,” het Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder, gesê.

‘Selfs erger, jy sleep ’n lewelose liggaam deur die pad en gooi dit net neer’

Sosialemediagebruikers, soos Bongani Zwane, se kommentaar lui: “Daardie uitsmyters was onnodig, onmenslik en barbaars in hul benadering. Uitsmyters is daar om ons te beskerm, nie om ons dood te maak nie. Hoekom veg teen iemand wat weghardloop, veral iemand wat dronk is? 

“Erger nog, dis drie van julle teen ’n maer, lewelose liggaam. En selfs erger, jy sleep ’n lewelose liggaam deur die pad en gooi dit net neer; los die liggaam daar, en rapporteer nie eers hierdie voorval by wetstoepassers of jou base, die klubeienaars, nie.” 

‘Dit regverdig die neem van ’n menselewe nie’

Nog ’n sosialemediagebruiker, Bangilizwe Msikinya, skryf: “Twee jaar gelede het ek kommer uitgespreek oor die uitsmyters by TOV, en vandag hoor ek hulle word daarvan beskuldig dat hulle iemand vermoor het. Al ken ek dalk nie al die besonderhede wat tot die onderonsie gelei het nie, glo ek nie dit regverdig die neem van ’n menselewe nie.”

Die polisie vra dat die vriend wat daarin geslaag het om die aanval te ontsnap, kapt. David Ramasoala by 082 468 1624 bel om besonderhede te verskaf wat kan help om die oorledene te identifiseer. Enige ander inligting wat met die ondersoek kan help, kan op die MySAPS-app ingedien word of bel Stop Misdaad by 08600 10111.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg/mc/mvh 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.