On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Slagoffer van tref-en-trap gegroet

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:54 Thu, 25 Jul 2024

Slagoffer van tref-en-trap gegroet | News Article
Foto: Facebook.

“’n Beloning van R10 000 is aangebied vir inligting wat tot ’n inhegtenisneming lei.”

Geliefdes neem Sondag afskeid van die man wat ná ’n tref-en-trapongeluk in die Vaaldriehoek gesterf het.

Donovin Rieger is vroeg Woensdagaand (17/7) deur ’n voertuig by die kruising van Barrageweg en Louis Trichardtboulevard getref. Hy het die volgende dag in die Sebokeng-hospitaal aan sy beserings beswyk.

’n Troosdiens sal Sondag om 12:00 vir Rieger by die Siesta-afreeoord gehou word.

’n Familielid het Donderdag (25/7) aan OFM Nuus gesê die nadoodse ondersoek is die vorige dag gedoen, en hulle wag nog op die uitslag. Ten spyte van foto’s en leidrade oor die voertuig wat moontlik in die noodlottige ongeluk betrokke was, sê Johnny de Sousa, is die verdagte steeds op vrye voet.

‘De Sousa is vasbeslote om nie die saak onopgelos te laat nie’

De Sousa het ’n foto van ’n voertuig ontvang wat moontlik met die voorval verbind kan word. “Die duik aan die motor en die omhulsel van die spieël wat op die toneel gevind is, dui daarop dat die spesifieke motor in die ongeluk betrokke was.”

’n Speurder het hom egter Donderdagoggend meegedeel dat dié voertuig nie die skuldige is nie. De Sousa het die speurder versoek om redes vir hierdie gevolgtrekking te verskaf, aangesien hy vasbeslote is om nie die saak onopgelos te laat nie.

Volgens de Sousa behoort die spieëlomhulsel aan ’n blou Volkswagen Polo of Golf. “Die omhulsel, wat sekere identifikasienommers bevat, sal aan kenners gestuur sal word vir verdere ontleding. Ongelukkig het die voertuig wat in die ongelukbeeldmateriaal gesien word, nie ’n sigbare registrasienommer nie. Ook nie die voertuig wat ek vermoed dit is nie.”

‘Videomateriaal wys hoe ’n bestuurder Rieger tref en vlug’

Die videomateriaal wys hoe Rieger wag dat die verkeerslig groen word, voordat hy die pad oorsteek. Oomblikke later jaag ’n bestuurder deur die kruising, tref Rieger op volle spoed, en vlug dan van die toneel af en laat hom vir dood agter.

’n Beloning van R10 000 is aangebied vir inligting wat tot ’n inhegtenisneming lei.

Noxolo Kwena, Gautengse polisiewoordvoerder, het bevestig die ondersoek duur voort. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar ons volg alle leidrade op.”

OFM Nuus mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.