On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Sestien Bloemfonteinse gemeentes, een groot basaar!

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:42 Thu, 25 Jul 2024

Sestien Bloemfonteinse gemeentes, een groot basaar! | News Article
Foto verskaf

“Elke kerk op die basaar sal verantwoordelik wees vir ’n spesifieke soort kos, met die uitsondering van pannekoek en koeldrank, wat deur verskeie gemeentes verkoop kan word.”

Ná verlede jaar se suksesvolle geleentheid, sien inwoners gretig uit na nog ’n aflewering van “Bloemfontein se grootste kerkbasaar”.

Die basaar, waartoe nie minder nie as 16 gemeentes in die suide van die stad vanjaar bydra, was die afgelope twee jaar ’n groot sukses, sê Henriette van Rooyen van die NG Gemeente Fichardtpark, waar die idee oorspronklik ontstaan het. 

“Covid-19 was ’n groot terugslag vir baie mense en ons het die behoefte gevoel om die gemeenskap en Christene weer bymekaar te bring,” vertel Van Rooyen.

Heerlike kosse sal weer vanjaar op die basaar te koop wees. Foto verskaf

“Dis hoekom ons op hierdie geleentheid besluit het. Ek bedoel, wie hou nie van ’n basaar nie! Dit is ’n wonderlike geleentheid vir kerke en mense om te verenig.”

“Verlede jaar se viering, waar verskillende kerke bymekaar gekom het, het alle verwagtinge oortref,” vertel dr. Enrico Casaleggio, predikant van die NG Gemeente Fichardtpark, geesdriftig oor die geleentheid. “Vanjaar se aflewering beloof om selfs beter te wees.”

Een van die tente op verlede jaar se basaar. Foto verskaf

Die basaar vind plaas vanaf 13:00 op Vrydag 2 Augustus in Altonasingel, Fichardtpark. Deelnemende kerke sluit in die Volle Evangelie Kerk Therapea, Lede in Christus en die Gereformeerde Kerke Bloemfontein-Suid, -Suidheuwels en Bloempark. Die NG Gemeentes Fichardtpark, Fichardtkruin, Fauna, Pellissier, Brandfort-Oos, Bloemfontein-Wes, Gardeniapark, Hopitaalpark, Onze Rust, Ooshoek en Uitsig sal ook tafels dek.

Elke kerk by die basaar sal verantwoordelik wees vir ’n spesifieke soort kos, met die uitsondering van pannekoek en koeldrank, wat deur verskeie gemeentes verkoop kan word.

Verlede jaar se suksesvolle basaar. Foto verskaf.

Besoekers kan ’n verskeidenheid kosse soos boerewors, kerrie-en-rys, braaivleis, vetkoeke en lekkers verwag. Daar is ook hope vermaak vir die kinders wat verskeie spanspeletjies kan geniet, en dansgroepe, ’n boereorkes, karatedemonstrasies sal die vermaak verskaf.

Casaleggio sê die opwinding loop hoog. “Dit sal ’n dag wees vir gelowiges om saam te geniet, gevul met vreugde en gemeenskapsgees.” 

OFM Nuus/Charné van der Merwe  mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.