On Now
Weekends 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 Opstaan with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Hopetown-man kry 20 jaar vir statutêre verkragting

───   HEIDRÈ MALGAS 11:26 Thu, 25 Jul 2024

Hopetown-man kry 20 jaar vir statutêre verkragting | News Article
Foto: iStock

“Inwoners het tussenbeide getree, die meisie gered het en Ponie gedwing om die toneel te verlaat.”

’n Middeljarige man van Hopetown in die Noord-Kaap is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ’n minderjarige.

‘Inwoners het tussenbeide getree, die meisie gered’

“Henrie Ponie (46) het die meisie (7) gegryp terwyl sy op 2 Augustus 2022 saam met haar maats gespeel het. Hy het haar toe genadeloos verkrag in ’n veld naby Goutrou in Hopetown,” sê Sergio Kock, provinsiale polisiewoordvoerder.

Inwoners het tussenbeide getree, die meisie gered en Ponie gedwing om die toneel te verlaat.

Die polisie het hom in hegtenis geneem. Op Woensdag (24/7) het die streekhof op Hopetown Ponie skuldig bevind en hom tot 20 jaar direkte gevangenisstraf vir verkragting gevonnis.

Benewens die tronkstraf is Ponie onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Sy naam sal ook tot die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders gevoeg word.

’Deeglike ondersoekwerk geprys’

Lt.genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse polisiekommissaris, loof die ondersoekpogings van speursers. Frans Louw van Hopetown se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings.

Otola prys Louw vir sy deeglike ondersoekwerk, wat gelei het tot die suksesvolle inhegtenisneming van Ponie vir hierdie “gruwelike daad van geslagsgeweld”.

“Die vonnis dra ’n sterk boodskap oor dat sulke gruweldade ernstige gevolge inhou,” sê Otola.

OFM Nuus het voorheen berig oor ’n soortgelyke voorval waar ’n pa van Bloemfontein tronkstraf gekry het nadat hy sy minderjarige seun verkrag het.

Die man (32) is Maandag 9 Julie 18 jaar tronkstraf opgelê nadat hy skuldig bevind is aan verkragting van sy seun (7), het kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, gesê.

“Omstreeks 22:00 op 17 September verlede jaar het die minderjarige seun aan sy ma vertel dat sy pa hom aan die agterkant van sy liggaam seergemaak het, en toe vir sy ma gewys wat sy pa gedoen het.”

Volgens Earle het die ma, wat diep geskok was deur die pa se optrede, haar seun na ’n dokter vir ’n mediese ondersoek geneem. “Die dokter het bevestig dat die seun seksueel aangerand is, en ’n saak is by die Bloemspruit-polisiekantoor aangemeld en na die Mangaung-eenheid vir gesinsgeweld en seksuele misdrywe verwys.”

Die verdagte is die dag ná die voorval in hegtenis geneem.

OFM Nuus/Heidre Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.