On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

Saak van nalatigheid ondersoek ná skietdood

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:47 Tue, 23 Jul 2024

Saak van nalatigheid ondersoek ná skietdood | News Article
Martin Wiid. Foto: Facebook

“Martin Wiid (27) is ’n week gelede omstreeks 23:00 ná ’n geselligheid met ’n skietwond in die kop buite die kuierplek in Heuwelsig gekry.”

’n Saak van nalatigheid word ondersoek ná die dood van ’n jong man, wat met ’n skietwond buite ’n kuierplek in Bloemfontein gevind is.

“Die polisie is besig met ’n geregtelike doodsondersoek na die voorval,” het kapt. Loraine Earle, Vrystaatse polisiewoordvoerder, Dinsdag (23/7) aan OFM Nuus bevestig. “’n Klag van die nalatige bewaring van ’n vuurwapen is bygevoeg en word ondersoek.”

Earle sê die polisie volg alle leidrade en bewerings op. Sodra die saak afgehandel is, sal die dossier aan die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (DPP) gestuur word vir ’n besluit.

Martin Wiid (27) is ’n week gelede omstreeks 23:00 ná ’n geselligheid met ’n skietwond in die kop buite die kuierplek in Heuwelsig gekry.

Martin Wiid was baie lief vir motors. Foto verskaf.

Sy pa, Willie Wiid, ’n Bloemfonteinse sakeman, het Maandag (15/7) aan OFM Nuus gesê hy sit met meer vrae as antwoorde. Willie sê dat hulle nog op die dag van die voorval saam gekuier het op hul plaas, sowat 100 km buite Bloemfontein, toe hy en sy oudste seun besluit het om iewers iets te gaan drink.

“Van Martin se vriende het ook by die plek aangekom en ek het toe vir hom (Martin) gesê om my eerder huis toe te neem, dan kan hy saam met sy vriende kuier.” Die gesin het ook ’n huis in Bloemfontein.

Volgens Willie het hy solank na die bakkie gegaan en geruime tyd op Martin gewag. “Toe Martin by die bakkie kom, het hy gesê ek moet gou die rekening betaal.”

Willie is onseker hoe lank hy in die kuierplek was, maar op pad terug na die bakkie het hy ’n geweerskoot gehoor.

Martin het homself vermoedelik met Willie se vuurwapen geskiet. “Ek kan nie vir jou sê of dit selfdood of ’n ongeluk was nie. Maar Martin het dit nie beplan nie. Martin het nie geweet die vuurwapen was in die bakkie nie,” sê Willie.

Martin Wiid sy ouers, Willie en Sandra en broer, George. Foto: Facebook

Willie, wat altyd ’n vuurwapen by hom dra, omdat hy die meeste van die tyd op die plaas is, glo dit was ’n ongeluk. “Ek vermoed Martin wou ’n baadjie wat in die bakkie was, aantrek. Die vuurwapen was vermoedelik in sy hand toe die skoot afgegaan het.”

Hy sê Martin het op die oog af gelukkig gelyk en daar was geen tekens dat hy selfdood oorweeg het nie. “Hy het nog gelewe toe ek daar aankom. Ek het Martin se bebloede kop in my hande vasgehou, totdat die nooddienste opgedaag het.”

Willie en sy vrou, Sandra, was van plan om Martin Maandag (15/7) by die lykshuis uit te ken, maar daar was nie water nie. Hulle het hom glo wel Dinsdag gaan uitken.

Die familie het Woensdag (17/7) aan OFM Nuus gesê dat die vuurwapen blykbaar nié in die bakkie was, soos voorheen aan OFM Nuus gesê is nie. Lt.kol. Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder, het egter Donderdag (18/7) aan OFM Nuus bevestig dat die vuurwapen wel in die bakkie was en dat die saak steeds ondersoek word.

Martin is Dinsdagoggend (23/7) ter ruste gelê. Die teraardebestelling was op die plaas Loogkop, distrik Boshof, waarna sy lewe gevier is in Piet se Gat, sy ouers se restaurant op Petrusburg.

OFM Nuus/Charné van der Merwe mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.