Central SA
Raaisel verdiep ná dood van jong Bloemfonteiner─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:06 Wed, 17 Jul 2024
“Toe Martin by die bakkie kom, het hy gesê ek moet gou die rekening betaal.”
Martin Wiid (27) is ’n week gelede omstreeks 23:00 ná ’n geselligheid buite ’n kuierplek in Bloemfontein met ’n skietwond in die kop gekry.
Sy pa Willie Wiid, ’n Bloemfonteinse sakeman, het Maandag (15/7) aan OFM Nuus gesê hy sit met meer vrae as antwoorde. Willie sê dat hulle nog op die dag van die voorval saam gekuier het op hul plaas, sowat 100 km buite Bloemfontein, toe hy en sy oudste seun besluit het om iewers iets te gaan drink.
“Van Martin se vriende het ook by die plek aangekom en ek het toe vir hom (Martin) gesê om my eerder huis toe te neem, dan kan hy saam met sy vriende kuier.” Die gesin het ook ’n huis in Bloemfontein.
Volgens Willie het hy solank na die bakkie gegaan en geruime tyd op Martin gewag. “Toe Martin by die bakkie kom, het hy gesê ek moet gou die rekening betaal.”
Martin Wiid en sy ouers, Willie en Sandra. Foto: Facebook.
Willie is onseker hoe lank hy in die kuierplek was, maar op pad terug na die bakkie het hy ’n geweerskoot gehoor.
Martin het homself vermoedelik met Willie se vuurwapen geskiet. “Ek kan nie vir jou sê of dit selfdood of ’n ongeluk was nie. Maar Martin het dit nie beplan nie. Martin het nie geweet die vuurwapen was in die bakkie nie,” sê Willie.
Willie, wat altyd ’n vuurwapen by hom dra, omdat hy die meeste van die tyd op die plaas is, glo dit was ’n ongeluk. “Ek vermoed Martin wou ’n baadjie wat in die bakkie was, aantrek. Die vuurwapen was vermoedelik in sy hand toe die skoot afgegaan het.”
Hy sê Martin het op die oog af gelukkig gelyk en daar was geen tekens dat hy selfdood oorweeg het nie. “Hy het nog gelewe toe ek daar aankom. Ek het Martin se bebloede kop in my hande vasgehou, totdat die nooddienste opgedaag het.”
Martin Wiid was baie lief vir motors. Foto verskaf
Willie en sy vrou, Sandra, was van plan om Martin Maandag (15/7) by die lykshuis uit te ken, maar daar is nie water nie. Hulle het hom glo wel Dinsdag gaan uitken.
Die familie het Woensdag (17/7) aan OFM Nuus gesê dat die vuurwapen glo nie in die bakkie was nie.
OFM Nuus dg/mvh