On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Central SA

Trio van luukse Bloemfontein-landgoed dán in hof vir borgtog

───   ZENANDE MPAME 09:54 Sat, 06 Jul 2024

Trio van luukse Bloemfontein-landgoed dán in hof vir borgtog | News Article
Van links: Ming Di Chen, Liang Chen en Juan Chen. Foto's: Valke

“Die drie Chinese burgers word aangekla van bedrog, die onwettige besit van vuurwapens en die onwettige besit van ammunisie.”

Drie Chinese burgers wat Donderdag (4/7) in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn het op ’n reeks klagtes, sal weer Dinsdag (9/7) in die hof verskyn om vir borgtog aansoek te doen.

Juan Chen (38), Liang Chen (34) en Ming Di Chen (52) is vroeër die week deur die Valke in die luukse Woodland Hill-landgoed in hegtenis geneem nadat inligting bekom is oor masjiene wat gebruik is om simkaarte te kloon. 

Simkaarte van meer as R1 miljoen gevind

’n Span bestaande uit verskeie polisie-eenhede, staatsdepartemente, private veiligheidsmaatskappye en forensiese ondersoekers het die inligting opgevolg.

“Die ondersoekerspan het reageer op inligting dat die verdagtes glo masjiene gebruik om data te kloon en simkaarte te vervaardig,” sê Zweli Mohobeleli, woordvoerder van die Vrystaatse Valke.

“’n Ondersoek- en beslagleggingsoperasie, wat deur die hof gemagtig is, is uitgevoer. Simkaarte van verskillende diensverskaffers met ’n geraamde waarde van meer as R1 miljoen, kloningsmasjiene, kontant, twee vuurwapens en rondtes ammunisie was van die items wat by twee huise gevind is.”

Die hoof van die Valke in die Vrystaat, genl.maj. Mokgadi Bokaba het die span wat betrokke was by die operasie vir hul ywer en spanwerk geloof.

Reuben Dziwani, Mosala Mogoje en Thabiso Lebotsa. Foto: SAPD

Drie in Paryshof oor ontvoering, bedrog

Intussen sal drie verdagtes na verwagting Vrydag (12/7) weer in die Parys-landdroshof verskyn vir ontvoering en bedrog. Hulle het Vrydag (5/7) hul eerste verskyning gemaak.

Mosala Mogoje (35), Thabiso Lebotsa (31) en die Zimbabwiër Reuben Dziwani (46) is Woensdag (3/7) deur lede van die Valke en Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) in hegtenis geneem.

"'n Administrasieklerk van Parys se verkeersdepartement was op pad werk toe voorgekeer deur die verdagtes in 'n swart Golf GTI. Hulle het voorgegee dat hulle vir padaanwysings vra," sê Mohobeleli.

“Hy is aangeval en in die voertuig gedwing, waarna hy Sasolburg toe geneem is waar hy gedwing is om met sy vingerafdruk transaksies op ’n verkeersdepartement se biometriese stelsel uit te voer.”

Die slagoffer is reguit na die naaste polisiestasie toe om die saak aan te meld nadat hy deur die verdagtes vrygelaat is. Nadat hy ondervra is, het hy die polisie na die verdagtes gelei.

“Die bedrieglike transaksies meer as R8 miljoen was vir die lisensiëring van voertuie. Dit is nog nie bekend hoe die verdagtes toegang tot die sagteware gekry het nie. Daar is op vier selfone en kontant beslag gelê.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cvdw

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.