On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Gerben
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Central SA

Welkom-leerder met breinswelling ‘oorreageer’, meen skoolhoof

───   HEIDRÈ MALGAS 11:30 Mon, 10 Jun 2024

Welkom-leerder met breinswelling ‘oorreageer’, meen skoolhoof   | News Article
Rethabile Mokoma (13) ondergaan fisioterapie en wag vir die swelling om te sak nadat sy met ’n sokkerbal getref is. Foto: Facebook

“Sy het gesukkel om regop te staan en het afwisselend koud en warm geword. Sy het gesê hulle het tydens pouse met ’n sokkerbal gespeel, en die bal het haar kop getref,” sê haar ma.

’n Gr. 7-leerder van Welkom Preparatory School ly aan swelling op die brein nadat ’n medeleerling haar met ’n bal teen die kop gegooi het.

Sy het sleg begin voel, maar die skoolhoof het haar pleidooi na bewering geïgnoreer en die besering afgemaak as nie ernstig nie.

Rethabile Mokoma (13) ondergaan steeds fisioterapie en wag vir die swelling om te sak. Haar ma, Moleboheng Mokoma, sê die eerste tekens het verskyn toe haar dogter Dinsdag (4/6) van die skool af tuiskom. Sy kon agterkom iets skort. Sy het moeite gehad om asem te haal en kon skaars sien.

“Sy het gesukkel om regop te staan en het afwisselend koud en warm geword. Sy het gesê hulle het tydens pouse met ’n sokkerbal gespeel, en die bal het haar kop getref,” sê haar ma.

Rethabile Mokoma toe sy jonger was. Foto: Facebook

Rethabile kon nie die presiese besonderhede van die dag onthou nie. Die dokter wat haar behandel het, het gevolglik haar toestand as tydelike geheueverlies beskryf en dit as harsingskudding gediagnoseer.

“Op die dag van die voorval by die skool het Rethabile simptome getoon nadat sy deur die bal getref is. Die onderwyser het gesê sy lyk gedisoriënteerd en ongemaklik.

“Ná die voorval het my dogter van die skool af teruggekom en verduidelik wat gebeur het, en hoe die onderwyser en skoolhoof die saak hanteer het. Dis toe dat ek skool toe is om die skoolhoof te konfronteer oor hoekom ek nie ingelig is die bal het my dogter getref nie.”

Nadat die onderwyser die situasie aan die skoolhoof verduidelik het, het hy geweier om Mokoma te bel en gesê haar dogter “oorreageer”.

‘Skoolhoof voel steeds my dogter oorreageer’

“So, die skoolhoof het basies gesê – nadat ek gebel het – hy voel steeds my dogter oorreageer. Hy het gesê daar is geen manier dat ’n bal jou kan tref en sulke simptome kan veroorsaak nie, gebaseer op sy ervaring in sport en afrigting,” het sy bygevoeg.

“Die eerste dokter wat haar ondersoek het, was dr. Gomizulu, wat dadelik X-strale aanbeveel het om die omvang van die skade wat deur die bal aangerig is, te bepaal.”

Die mediese behandeling wat Rethabile tans ontvang, sluit fisioterapie in aangesien sy die gevoel aan haar linkersy begin verloor het. Sy word met pynmedikasie behandel. Hulle kan haar egter nie veel gee nie weens die breinswelling. Sodra die swelling gesak het, sal hulle kan bepaal of chirurgie nodig is.

Rethabile Mokoma is dadelik vir X-strale gestuur nadat sy haar dokter gesien het. Foto: Facebook

Haar dogter ervaar steeds newe-effekte van die swelling, veral omdat haar linkersy opgehou het om behoorlik te funksioneer. Soms gaan sy in ’n sluimerende toestand en staar net in die ruimte. Die dokter het gesê dis dalk omdat sy na die kloppende pyn in haar kop luister.

“My grootste bekommernis oor haar herstel is die langtermynskade wat die swelling kan veroorsaak. Die dokter het genoem dat sommige simptome van ’n breinbesering dalk nie dadelik sal verskyn nie, maar later kan manifesteer soos sy groei en ontwikkel.”

‘Onderwysdepartement wag op skoolhoof se verslag’

Die skoolhoof en die skool het steeds nie verskoning gevra of die situasie aangespreek nie, vertel Mokoma. Sy het die saak by die Departement van Onderwys en die kringdistriksbestuurder aangemeld, maar hulle het nog die skoolhoof se verslag nodig om verder te reageer.

Die gr. 7-leerder het geen vorige kopbeserings wat die erns van die huidige besering kon veroorsaak het nie.

OFM Nuus het die skool gekontak en is verwys na die onderwysdepartement en Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, sê die departement ondersoek die saak.

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.