On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Vier boorgate kan Bloemfontein se waternood verlig – Metro

───   MARIETJIE GERICKE 19:05 Tue, 17 Dec 2024

Vier boorgate kan Bloemfontein se waternood verlig – Metro | News Article
Bloemfonteiners is keelvol van die metro se verskonings vir wateronderbrekings. Foto: Charne van der Merwe

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het waardevolle raad aangebied met Mangaung-metro se voortslepende waterkrisis deur onder meer voor te stel vier boorgate word geboor waar die ondergrondse water sterk vloei.

Die munisipaliteit het by die presidensiële infrastruktuurtoelaag aansoek gedoen om finansiering vir die boorgate en die pypleiding tot by die opgaardamme, sê Vusi Soqaga, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur.

Hy het die UV Donderdag (12/12) op ’n raadsvergadering geloof vir die waardevolle bystand aan die metro met sy navorsing en toetse om Magaung se waterkrisis die hoof te bied. In ’n onderhoud met OFM Nuus Dinsdag het hy Kovsies in sy persoonlike hoedanigheid groot lof toegeswaai.

’n Regeringsafvaardiging onder leiding van dr. Dickson Masemola, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake, besoek Bloemfontein Woensdag oor die metro se voortslepende waterkrisis in die versengende hitte, wat mens en dier vanjaar laat steier.

Rdl. Vusi Soqaga het waardering vir die UV se voorstelle om die waterkrisis die hoof te bied. Foto: Facebook/Cllr Vusi Soqaga

Beurtwater word steeds in Bloemfontein en die omliggende dorpe van die metro toegepas,” sê Soqaga, “en die waterprobleem is baie groot.”

Masemola en Pinky Kekane, adjunkminister van openbare administrasie, sou vroegoggend byeenkom in die kantoor van Gregory Nthatisi, uitvoerende burgemeester, waarna hulle na die kantoor van Maqueen Letsoha-Mathae, Vrystaatse premier, sou vertrek en ’n uur daar deurbring.

Putlatrines moet dringend gesuig word

Die eerste besoekpunt van hul toer van die metro is Botshabelo, waar inwoners mor oor puttoilette, sê Soqaga. Hulle meen vinniger vordering moet gemaak word om dié stelsel uit te skakel wat gesondheids- en ander gevare inhou.

Dit kan nie gebeur dat die putlatrines oor Kersfees en oor Nuwe Jaar nie leeggemaak word nie, meen hy. “Honeysuckers is nou nodig om daardie putlatrines in Thaba Nchu en Botshabelo te gaan leegsuig.”

Wat die waterkrisis betref, is dit veral die hoogliggende gebiede van Bloemfontein soos Rocklands, dele van Langenhovenpark, Heuwelsig en Pentagonpark wat die swaarste deurloop.

Bloemfontein se gemiddelde reënval in Desember is 71 mm; tot dusver het geen reën vandeesmaand uitgesak nie. Foto: Morné van Rooyen

“Ons hou al geruime tyd elke oggend om 07:00 vergaderings  as ’n multitaakspan om oplossings vir die metro se waterkrisis te kry. Die taakspan bestaan uit verskeie adjunkministers onder wie ook David Mdolo van menslike nedersettings en water en sanitasie, lede van die Vaal-Sentraal-waterraad, verskeie LUR’e, asook Teboho Zacharia Mokoena, LUR vir samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings.

“Ons monitor die vlakke van die metro se opgaardamme soggens, deur die dag en saans omdat ons nie wil hê (dit) moet leegloop en dan weet ons nie daarvan nie. (Verlede) Woensdag was die reservoirs leeg, maar daar was aansienlike verbeterings sedertdien.”

Die waterbeperkings moet heeltyd bestuur word, sê hy. “Dit is veral snags dat ons waterlewering staak of verminder, maar hospitale word nie hierdeur geraak nie.”

Adj.min. David Mdolo is deel van die taakspan wat Mangaung se waterkrisis takel. Foto: dws.org.za

Die moeilikheid by die Maselspoort-watersuiweringsaanleg is ’n elektriese probleem, maar werknemers van Centlec, elektrisiteitsverspreider van die metro, is besig om aan die probleem aandag te gee. “Van Maselspoort af word water aan die noorde van Bloemfontein voorsien.”

Die “wonderlike” planne van die UV om die metro te help, maak ook voorsiening vir meer opgaarvermoë in Bloemfontein, waarvoor ook meer geld benodig word. Soqaga sê in die begroting sal hiervoor voorsiening gemaak moet word.

VF Plus-rdl. Valerie de Kock het op die raadsvergadering Donderdag gesê sy sit sprakeloos oor hoe die inwoners van Wepener, Dewetsdorp, Soutpan, Botshabelo en Thaba Nchu, dagin en daguit sonder water moet sit. Haar telefone lui onophoudelik soos mense vra om hulp.

VF Plus-rdl. Valerie de Kock sê water is ’n basiese, grondwetlike reg. Foto: VF Plus

“Die VF Plus en AfriFourm het klagtes by die Menseregtekommissie ingedien oor die waterkrisis in die gebied omdat water volgens die Grondwet ’n basiese reg is.”

Die munisipale gebied gaan gebuk “onder een van die grootste waterkrisisse denkbaar”. Inwoners kla by opposisieraadslede hulle kan nie voor werk was nie weens die beurtwater, sê De Kock. Wanneer hulle saans tuiskom is die watertoevoer reeds weer gestaak en staan hul krane droog “Hulle kan gevolglik nie voor of ná werk was nie.”

‘ANC se tyd loop uit’

Nog ’n raadslid, Dirk Kotzé van die DA, het sy stem op die raadsvergadering dik gemaak en die ANC-beheerde raad behoorlik die leviete voorgelees. “Dit is nou tien jaar dat daar elke jaar met die feestyd nie water in Bloemfontein is nie en dat die inwoners moet sukkel om water in hul huis te kry. Die Grondwet sê dienste moet gelewer word.”

Hy het ook verwys na die DA se groot waterverslag wat vroeër by die Menseregtekommissie ingedien is en gewaarsku die regerende party se tyd loop uit.

“Dit is op 19 Desember vyf jaar dat die metro onder art. 139-administrasie is en nog niks het verbeter nie,” het Kotzé gesê. “Ons hoor alewig dat die ANC hom wil vernuwe, maar die party is nie in staat om homself reg te ruk nie.”

OFM Nuus/Marietjie Gericke mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.