Central SA
Vrystaatse polisie trek twee vas terwyl hul gesteelde bakkie ná kaping stroop─── CHARNÉ VAN DER MERWE 10:09 Sun, 09 Jun 2024
Die polisie het 'n wenk van 'n betroubare bron opgevolg oor verdagtes wat besig was om 'n Hyundai H100-bakkie te stroop.
Twee mans wat op heterdaad betrap is waar hulle besig was om ’n gesteelde Hyundai H100-bakkie uitmekaar te haal, sal binnekort in die Vereeniging-landdroshof verskyn op aanklagte van kaping en die besit van ’n gesteelde voertuig.
Hulle is in hegtenis geneem tydens ’n roetine-misdaadvoorkomingspatrollie deur die polisie in die Orange Farm-omgewing.
Volgens sers. Shaan Motsapi, polisiewoordvoerder het beamptes 'n wenk van 'n betroubare bron ontvang oor verdagtes wat besig was om 'n Hyundai H100-bakkie te stroop. Op grond van hierdie inligting het die polisie by die toneel opgedaag en die verdagtes gevind waar hulle besig was om die voertuig uitmekaar te haal. By ondervraging kon die verdagtes nie hul optrede verklaar nie.
Voertuig se eienaar is langs die Goue Hoofweg gekaap
“Die verdagtes is dadelik in hegtenis geneem,” sê Motsapi. “Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die voertuig se eienaar vroeër langs die Goue Hoofweg in die Vanderbijlpark-omgewing gekaap is. Hy is later in De Deur gevind.”
Die twee verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van kaping en die besit van ’n gesteelde voertuig. Hulle sal binnekort in die Vereeniging-landdroshof verskyn.
Brig. MJ Manamela, stasiebevelvoerder, het die beamptes geloof vir hul vinnige reaksie en hul toewyding om die gemeenskap te dien, geprys. “Die lede verdien 'n staande ovasie vir 'n werk wat goed gedoen is.”
Bejaarde oorrompel, aangerand en besteel
In ’n ander voorval van motordiefstal is ’n bejaarde vrou (77) van Dan Pienaar in Bloemfontein op Vrydag 31 Mei deur ’n onbekende man oorval, seksueel aangerand en van haar motor, ’n wit Datsun Go, asook ander huishoudelike items besteel.
“Misdadigers teiken bejaardes weens hul kwesbaarheid, wat die noodsaaklikheid van veiligheidsmaatreëls beklemtoon,” sê Charnel Hattingh van Fidelity ADT. Sy sê maatreëls, soos sterk slotte en om noodkontaknommers byderhand te hê, is belangrik vir tuisveiligheid.
“Maak seker van besoekers se identiteit voordat jy die deur oopmaak. Wanneer jy uitgaan, lig iemand in oor jou bewegings en vermy geïsoleerde areas. Hou persoonlike items veilig,” sê sy.