Central SA
Struisie, die volstruis wat swem soos ’n gans, bring vreugde – VIDEO’S─── KAREN VAN DER BERG 11:16 Thu, 04 Apr 2024
“Hy dink regtig hy is ’n gans. Soggens wanneer die ganse aangehardloop kom, dan doen Struisie die danspassies saam met hulle.”
Die vreugde wat hul mak volstruis bring, is onmeetbaar, selfs al dink Struisie hy’s ’n gans.
So vertel Christi Nolte van Struisie, dié tien maande oue volstruismannetjie wat sommer gou-gou in sy en sy vrou, Marthie, se harte kom inkruip en soos ’n kind vir hulle geword het.
Die Noltes bly op Wonderfontein langs die Vaalrivier, tussen Sasolburg en Vanderbijlpark, waar hulle ’n onderneming het wat huisbote verhuur. “Ek het verlede jaar vir Marthie twee volstuisies, Struisie en Tinky, present gegee. Sy is gek oor diere, en hier is al ’n hele paar ander diere op ons werf, soos ’n vlakvark, meerkat en boerbokke, wat sy met die hand grootmaak. Marthie het ’n slag met diere.”
Marthie Nolte en hul mak volstruis, Struisie. Foto verskaf
Tinky is ongelukkig dood. Dit het gemaak dat Struisie deel van die gesin geword het, in besonder, deel van die ganse op die werf. “Hy dink regtig hy is ’n gans. Soggens wanneer die ganse aangehardloop kom, dan doen Struisie die danspassies saam met hulle.
“Struisie lê en plas in die klein dammetjies, soos die ganse, en vreet soos die ganse. En wanneer dit tyd is vir ’n middagslapie, dan slaap Struisie ook op die gras. As die ganse rondloop, dan loop Struisie ook rond.”
Hoe verder Struisie swem, hoe swaarder raak hy. Foto verskaf
Christi vertel hulle was stomverbaas toe Struisie, kompleet soos ’n gans, begin swem. “Toe die ganse in die rivier spring, toe doen Struisie dit ook!”
Hy vertel gewoonlik wanneer die ganse in die rivier is, vat hy ’n boot en bring hulle terug. “Ek is bang hulle raak weg. Struisie lyk soos ’n duikboot wat langs die ganse swem.”
Christi is bly hy het hulle gevolg, want hoe verder Struisie swem, hoe swaarder raak hy. “Ek dink nie hy sal sink of verdrink nie, maar hy is gedaan wanneer hy uitklim; dit is eintlik nie in sy aard om so te swem nie. Ons sal altyd ’n ogie hou.”
Christi sê Struisie is ’n liewe ding wat oral vreugde bring, deesdae ook op sosiale media.