Central SA
Auden van Vanderbijlpark maak ogies oop ná amperverdrinking─── KAREN VAN DER BERG 12:47 Fri, 01 Mar 2024
“Ons bly verskriklik dankbaar vir al die ondersteuning.”
Hy maak al sy ogies met tye oop, en hoewel hulle nie seker is of hy kan sien nie, vier hulle elke mylpaal. So vertel Jaques Lamprecht van Vanderbiljpark wie se seun, Auden (2), op 22 Desember in die swembad van hul woonstelkompleks in Vanderbijlpark geval en amper verdrink het. Hy was ’n onbepaalde tyd sonder suurstof.
Auden word vir die afgelope paar weke tuis deur sy ouers, Jaques en Chanelle, versorg. Hy was 32 dae, in die pediatriese hoësorgeenheid van die Netcare Alberton-hospitaal en is daarna ook in die Lambano-rehabilitasiesentrum verpleeg.
Dokters meen hy het breinstambeserings opgedoen en sal moontlik serebraal gestremd wees.
Auden Lamprecht (2) het breinstambeserings opgedoen. Foto verskaf
“Dit gaan onder omstandighede goed met ons. Auden is heel gelukkig by die huis. Ons kry ons moeilike dae. Soms baklei hy teen sy lyfie. Hy maak sy ogies oop en dan weer toe, sê Jaques.
Hulle moet binnekort toetse laat doen om te sien of Auden wel kan sien.
“Wanneer hy sy ogies oopmaak lyk dit of hy met sy regteroog kan fokus. Sy linkerogie kyk heeltemal links. So ons is nog nie seker of dit oor die breinbesering is of nie. Toetse sal dit later bepaal.” Jaques sê met sy versorging gaan dit goed.
“Daar is baie medikasie wat hy moet kry. Ons oefen hom verskriklik baie en hy kry fisioterapie. Ons gee hom baie liefde en baie aandag en bid nog elke dag vir hom.”
Auden Lamprecht moes ook ’n trageotomie kry. Foto verskaf
Hulle moet ook sy traggie, of trageotomie, skoonmaak – ’n mediese pyp wat aan die lugpyp gekoppel word om asemhaling te vergemaklik, asook sy voeding behartig en hom daagliks laat oefen.
“Dit is nie altyd maklik nie. Maar ons sien elke mylpaal raak en vier dit. Ons bly verskriklik dankbaar vir al die ondersteuning,” sê hy.
• Familie en vriende het ’n Back-a-Buddy-rekening vir Auden geopen in die hoop mense sal bydra om noodsaaklike rehabilitasietoerusting te kan koop en om die uitstaande hospitaalrekening te help betaal.
OFM Nuus/Karen van der Berg dg