Central SA
‘Gatvol’: Klerksdorpers vul self slaggate─── ZENANDE MPAME 15:55 Thu, 15 Feb 2024
"Die paaie se toestande het so versleg, ons kan nie meer daarop ry nie."
Inwoners van Klerksdorp het besluit om self die slaggate in die dorp reg te maak. Hulle het met ’n skoonmaakveldtog begin om die sypaadjies skoon te maak, die slaggate op te vul en spoedwalle in Ianstraat te verf.
Chris de Jongh het die skoonmaakveldtog begin omdat hy en die inwoners moeg was vir die verslegtende toestand van hul woonbuurt. Die geld wat die veldtog uit skenkings ontvang, word in ’n trustfonds geplaas. Hy het sowat 85 inwoners wat hom help.
“Ek het besluit om hierdie skoonmaakveldtog te begin, want ek bly op ’n kleinhoewe saam met my pa en broer. Die paaie se toestande het so versleg ons kan nie meer daarop ry nie,” sê De Jongh.
‘Die mense is gatvol vir die munisipaliteit'’
“Die mense in hierdie woonbuurt is gatvol vir die munisipaliteit wat nie hul werk behoorlik doen nie. Dit is jammer dat inwoners moet inspring om die munisipaliteit se werk te doen, maar ons kan nie aangaan en die verval aanvaar nie.”
Projek Gatvol is ook in ’n ander deel in Klerksdorp in samewerking met Future Bricks begin. Die doel is om gemeenskappe te help om die paaie reg te maak sodat dit rybaar is sonder om voertuie te beskadig.
Die paaie in Klerksdorp is in ’n baie slegte toestand. Foto verskaf
Tot dusver het hulle 132 slaggate reggemaak in die La Hoff- en Flimieda-omgewing. Hul doelwit is om al die gebiede in Klerksdorp reg te maak.
“Die paaie wat ons eerste gedoen het, is die wat na skole en die sakegebied lei. Die ondernemings verloor klante omdat die paaie so sleg lyk en dit ’n nagmerrie is om daarop te ry,” sê JP van der Schyff, bestuurder van die Klerksdorp Projek Gatvol.
Projek Gatvol se doel is om die slaggate reg te maak. Foto verskaf
“Die meeste van hierdie projek is uit ons eie sak gefinansier, Gemeenskapslede kan skenkings doen of ons produkte koop sodat ons kan aanhou om die paaie reg te maak.”
Future Bricks bedank die gemeenskap vir die verversings wat hulle geskenk het en hul ondersteuning vir die projek.