On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Sol Plaatje kom inwoners tegemoet met skuldverligting

───   ZENANDE MPAME 14:31 Thu, 08 Feb 2024

Sol Plaatje kom inwoners tegemoet met skuldverligting | News Article
Foto: solplaatje.org.za

“Alle rente sal ook afgeskryf word as die rekening ten volle vereffen is.”

Inwoners van Kimberley en omstreke kan uitsien na ’n ligter skuldlas nadat die Sol Plaatje-munisipaliteit ’n skuldverligtingsprogram vir Februarie ingestel het. Inwoners wat die munisipaliteit langer as 90 dae geld skuld en hul skuld ten volle vereffen, sal 50%-afslag op hul munisipale rekening ontvang en ook nie rente betaal nie. 

Die munisipaliteit bied die 50%-afslag aan inwoners vir die hele maand om hulle aan te moedig om hul munisipale skuld te delg.

“Die munisipaliteit begin met ’n skuldverligtingsprogram waar inwoners en ondernemings van Sol Plaatje met skuld wat langer as 90 dae agterstallig is, toegelaat word om hierdie rekeninge eenmalig te vereffen,” sê Kenneth Samolapo, finansiële hoof.

Die munisipaliteit begin met ’n skuldverligtingsprogram. Foto: Sol Plaatje Munisipaliteit

Diegene wat nie die 50% kan betaal nie, kan deelneem aan ’n driejaarprogram om hul skuld van 90 dae of ouer te delg. As hulle dadelik 30% van die skuld betaal, sal hulle in die eerste jaar net 50% van die rente hoef te betaal en 25% van die jaar se erfbelasting. In die tweede en derde jaar sal hulle ’n 25%-korting op erfbelasting en rente kry as hulle elke maand hul rekening ten volle betaal.

Die munisipaliteit sê hy is bewus van die probleme wat belastingbetalers ervaar om hul finansiële verantwoordelikhede teenoor die munisipaliteit na te kom. Daarom is die skuldverligting aangekondig.

“Ons doen ’n beroep op inwoners om voordeel te trek uit hierdie aanbod en hul rekeninge eenmalig te betaal en te vereffen,” sê Samolapo.

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.