On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Noordwes-skoolbus verloor stuurwiel voor ongeluk

───   CORNÉ GREYVENSTEIN 10:37 Thu, 08 Feb 2024

Noordwes-skoolbus verloor stuurwiel voor ongeluk | News Article

“Die DA in Noordwes word oorval met klagtes van ouers, onderwysers en leerders oor die swak toestand van sommige voertuie wat vir skoolvervoertenders gebruik word.”

Dieselfde dag waarop 48 gr. 8-leerders van die Hoërskool Riebeeckstad in ’n busongeluk betrokke was waarin ses meisies oorlede is, het ’n skoolbus in Noordwes teen ’n boom tot stilstad gekom nadat die stuurwiel afgebreek het.

Sedert die heropening van skole in Januarie word die DA in Noordwes oorval met klagtes van ouers, onderwysers en leerders oor die swak toestand van sommige voertuie wat vir skoolvervoertenders gebruik word.

Drie leerders van die JM Lekgetho Gekombineerde en Gaetsho Sekondêre Skool op Lichtenburg is in die hospitaal opgeneem terwyl meer as 20 leerders behandeling vir ligte beserings ontvang het. Die DA is dankbaar dat geen ernstige beserings aangemeld is nie, maar herhaal sy versoek dat Noordwes se skoolvervoertender ondersoek word.

Verlede jaar het die Spesiale Ondersoekeenheid verdoemende bevindings teen die departement bekendgemaak oor die onreëlmatige toekenning van ’n skoolvervoertender. Dit het ook meegebring dat sommige diensverskaffers die betalings moes teruggee wat hulle reeds ontvang het. Die Departement van Gemeenskapsveiligheid en Vervoerbestuur het verlede jaar nuwe vervoertenders toegeken.

Freddy Sonakile, Noordwes-wetgewerlid van die DA, het onderneem om aan die LUR vir Onderwys, Sello Lehari, te skryf en al die besonderhede oor hierdie nuwe skoliervervoertender aan te vra. Die versoek sal besonderhede van die voertuie, eienaars, padwaardigheidsertifikate en alle behoorlike prosesse insluit wat deur die departement gevolg is met die toekenning van hierdie kontrakte.

Sonakile sê die blote feit dat voertuie wat nie padwaardig is nie, kontrakte gekry het, is ’n rede tot ernstige kommer. Die DA sal nie terugdeins om druk op die LUR en sy departement uit te oefen totdat die veiligheid van skoolkinders ernstig opgeneem word nie.

Die Komitee vir Onderwys, Kultuur, Kuns, Sport en Ontspanning van die Noordwes-wetgewer sal na verwagting Donderdag (8/2) ’n oorsigbesoek bring aan onder meer die JM Lekgetho Gekombineerde Skool in Ditsobotla, Lichtenburg.

Die wetgewer hou ’n oorsigweek in verskeie munisipaliteite onder die Ngaka Modiri Molema-distriksmunisipaliteit. Die program van 6 tot 9 Februarie is daarop gemik om toesig en openbare deelname te versterk en om aanspreeklikheid en deursigtigheid in die regering te bevorder. 

Tydens dié program het wetgewerlede interaksie met verskillende provinsiale departemente, hul LUR’e, burgemeesters, rekenpligtige beamptes en lede van die munisipaliteite se komitees oor openbare rekeninge. Verskillende portefeuljekomitees doen oorsigbesoeke aan verskeie projekte in die distrik om hul status quo en uitdagings na te gaan.

OFM Nuus mc

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.