Central SA
Mangaung-metro met hof gedreig oor vullisverwydering in Bloemfontein─── 08:48 Tue, 23 Jan 2024

“Ons het geen ander keuse nie as om regstappe teen die Mangaung-munisipaliteit te doen. Inwoners het die reg om dié diens van hul munisipale rekening te laat verwyder.”
AfriForum het gister (22/1) ’n finale aanmaningsbrief aan die Mangaung-munisipaliteit gestuur nadat die metro inwoners se aansoek om nie langer vir die diens te betaal nie, afgekeur het.
Talle inwoners meen hulle ontvang geen of swak diens van die munisipaliteit en wil eerder privaat diensverskaffers betaal om hul huishoudelike vullis te verwyder.
“Die munisipaliteit het tot 5 Februarie kans om geldige redes vir die weiering van lede se kansellasie-aansoeke te voorsien, anders sal AfriForum hom tot die hof wend,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.
‘Meer as 700 inwoners doen aansoek’
“AfriForum het lede aangemoedig om ’n aansoek vir die kansellasie van die munisipaliteit se vullisverwyderingsdiens in te dien sodat hulle eerder voortaan van privaat diensverskaffers gebruik kan maak. Ongeveer 700 mense het hierdie aansoek ingedien, maar die munisipaliteit het die aansoeke van die hand gewys.
“Duisende inwoners maak reeds gebruik van privaat vullisverwyderingsdienste, wat beteken hulle betaal dubbel vir hierdie diens.”
Volgens die munisipale verordening is inwoners aanspreeklik om die tarief te betaal indien die munisipaliteit die afvaldienste lewer, maar inwoners wat van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik maak kan vrygeskeld word indien hulle die munisipaliteit skriftelik in kennis stel en die munisipaliteit dan daartoe instem.
‘Baie inwoners betaal dubbel om vullis te verwyder’
“Ons het geen ander keuse as om regstappe teen die Mangaung-munisipaliteit te doen nie. Inwoners het die reg om aansoek te doen om hul munisipale vullisverwydering te staak en dié diens van hul munisipale rekening te laat verwyder. Baie inwoners is nou moeg daarvoor om dubbele kostes te dra net om hul vullis stiptelik te laat verwyder en toe te sien dat hul woonbuurt nie in ’n vullisterrein ontaard nie.”
Volgens Groenewald word vullis in Bloemfontein sporadies verwyder, wat nie net gesondheid- en omgewingsrisiko’s inhou nie, maar ook geleenthede skep vir sogenaamde sakgrawers en diere om die vullissakke oop te skeur en rommel verder te versprei.
“Inwoners en belastingbetalers behoort te kan kies van watter dienste hulle gebruik wil maak,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir plaaslikeregeringsake.