On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Central SA

Is ds. Liezel de Jager se moord beplan?

───   KAREN VAN DER BERG 17:11 Mon, 15 Jan 2024

Is ds. Liezel de Jager se moord beplan? | News Article
Werner de Jager daag op by die landdroshof op Amanzimtoti, KZN. Foto: South Coast Sun/Vusi Mthalane

“Hy was die enigste begunstigde van die lewenspolisse wat op Liezel se naam uitgeneem is.”

In ’n nuwe wending is Werner de Jager, man van die vermoorde ds. Liezel de Jager van die NG Gemeente Suidkus in KZN, Maandag (15/1) van moord met voorbedagte rade en bedrog aangekla.

Werner het wel Maandag in die landdroshof op Amanzimtoti aangevoer hy het haar nie vermoor nie. Sy regsverteenwoordiger, adv. André May, het die verklaring namens hom voorgelees.

Netwerk24 berig dié mediagroep het die klagstaat onder oë gehad. Luidens die klagstaat het Werner vir Liezel vermoor en dit haarfyn beplan omdat hy sou baat vind by twee lewenspolisse, een by Old Mutual en een by Momentum.

Ds. Liezel de Jager. Foto: Kerkbode

“Hy was die enigste begunstigde van die lewenspolisse wat op Liezel se naam uitgeneem is. Die waarde daarvan is miljoene rande en Werner het die polisse probeer eis ná die moord op Liezel. Werner het glo finansiële probleme ten tye van die moord gehad,” lui Netwerk24 se berig.

Die South Coast Sun berig dat die lewenspolisse R3,29 miljoen beloop. Luidens die klagstaat gaan lewenslange tronkstraf gevra word.

Vroeër is berig Liezel is op 13 Oktober 2021 in die oprit van die pastorie op Amanzimtoti aangeval en verwurg. Sy het pas teruggekeer van haar drafsessie saam met haar drafgroep. Werner het destyds beweer hy het op haar afgekom en toe die veiligheidsmaatskappy laat weet. Hy is in November in Bloemfontein in hegtenis geneem.

Werner en ds. Liezel de Jager. Foto: Facebook

Moord met voorbedagte rade is wanneer die staat kan beweer die moord is voor die tyd beplan, sê Adriaan Janse van Rensburg, strafregprokureur van Bloemfontein. Om vir ’n bylaag ses misdryf aansoek om borgtog te doen beteken basies dat die bewyslas op die beskuldigde is.

“Hy sal moet bewys dat daar buitengewone omstandighede bestaan en dat dit in belang van geregtigheid is om op borg vrygelaat te word.”

Janse van Rensburg sê vir so iemand is dit heelwat moeiliker om borgtog te kry omdat die bewyslas soveel moeiliker is. “Daar word byvoorbeeld gekyk of hy weer misdaad sal pleeg, met getuies sal inmeng en die hof sal vasstel of hy vorige oortredings het en of daar hangende sake teen hom is.”

Die saak duur voort.

OFM Nuus/Karen van der Berg mc

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.