Central SA
2 mans sterf, 5 beseer toe weerligstraal hulle tref op Barkly-Wes─── 11:05 Fri, 05 Jan 2024
“Weerlig is meer soos ’n bom wat ontplof.”
Twee mans is Woensdag (3/1) op Barkly-Wes deur ’n weerligstraal getref en deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Die slagoffers (26 en 51 jaar) is omstreeks 17:15 op plaasgrond by Wildeklawer deur die weerligstraal getref, sê Molefi Shemane, Noord-Kaapse polisiewoordvoerder. “Ons ondersoek ’n doodsondersoek met betrekking tot die voorval.”
Nog vyf ander mense (tussen 26 en 61 jaar), ’n vrou en vier mans, is ook getref. “Hulle het beserings opgedoen en ontvang mediese behandeling in die Mediclinic Gariep in Kimberley,” sê hy.
• Dis onbekend hoeveel Suid-Afrikaners jaarliks deur weerlig doodgeslaan word, maar die slagoffers word op tussen 100 en 140 per jaar geskat. Dikwels word ’n liggaam in ’n oop veld aangetref sonder ’n ooglopende doodsoorsaak, sê weerlignavorsers aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Johannesburg is een van die beboude gebiede wat die meeste onder weerligstrale deurloop. Foto: Christo Smith/Facebook
Hul navorsing is daarop gemik om met sekerheid te sê wanneer mense en diere deur weerlig gedood word, maar hulle wil ook mites oor weerlig ontluister, soos dat een weerligstraal, as dit vasgevang kan word, ’n stad vir ’n jaar van krag kan voorsien.
Ongelukkig werk weerlig nie so nie, sê dr. Hugh Hunt van die Johannesburgse Weerlignavorsingslaboratorium. “’n Mens kan regtig nie (weerlig gebruik vir kragvoorsienig nie), want dis nie genoeg energie nie. Selfs as jy al die elektriese energie in die hele wêreld se atmosfeer inspan, is dit geensins genoeg om stede en nywerhede van krag te voorsien nie.” Weerlig is meer soos ’n bom wat ontplof, verduidelik hy.
OFM Nuus dg