On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Anny
Listen Live Streams

Central SA

Bring tog handboeke terug, vra Noord-Kaapse onderwysdepartement

───   HEIDRÈ MALGAS 09:58 Fri, 05 Jan 2024

Bring tog handboeke terug, vra Noord-Kaapse onderwysdepartement | News Article
Die Hoërskool Diamantveld in Kimberley moedig ouers aan om handboeke terug te besorg. Foto: Skermgreep

“Wat baie mense nie verstaan nie, is dat die boeke aan die begin van elke jaar aan die kinders geleen word.”

Hoe meer skoolhandboeke hergebruik kan word, hoe meer kan skole bespaar en liewer hul geld vir ander noodsaaklikhede gebruik.

Daarom reël die Noord-Kaapse Departement van Onderwys jaarliks ’n projek waardeur ouers en leerders aangemoedig word om handboeke wat dalk by die huis rondlê, terug te besorg aan die skool wat dit uitgereik het.

Ongelukkig verwag party mense dat hulle net handboeke van die skole en regering sal ontvang, sonder dat hulle ooit hoef terug te gee, sê Dillon Pienaar, waarnemende adjunkdirekteur van die departement se Leerder-onderwysondersteuningsmateriaal. “Wat baie mense nie verstaan nie, is dat die boeke aan die begin van elke jaar aan die kinders geleen word.

‘Leerders is geregtig op basiese gehalteonderwys’

“Daardie boek moet deur die loop van die jaar nagegaan word om te bepaal of die boek nog in die besit van die kind is en of die boek nog in ’n goeie toestand is.”

Wanneer ’n skool vir die volgende jaar beplan, moet hy presies weet hoeveel van die boeke vervang moet word, sê Pienaar. Leerders is geregtig op basiese gehalteonderwys, maar sommige ouers benadeel die kind as hulle nie boeke teruggee nie en verwag dat diegene wat dit nie doen nie, steeds boeke moet ontvang.

Die Hoërskool Diamantveld in Kimberley het byvoorbeeld ’n treffende video gemaak waarin ouers aangemoedig word om boeke terug te besorg. Video verskaf

“Ons help hulle om verantwoordelik te wees en ook om die skool te help,” sê hy, “want die geld wat skole van die regering ontvang, sal nooit genoeg wees nie. Hoe meer die boeke hergebruik kan word, hoe meer kan die skole spaar vir ander dinge.”

‘Die Hoërskool Diamantveld het treffende video gemaak’

Gelukkig werk talle skole in die provinsie mooi saam. Die departement spoor ook skole aan om self veldtogte te begin. Die Hoërskool Diamantveld in Kimberley het byvoorbeeld ’n treffende video gemaak waarin ouers aangemoedig word om boeke terug te besorg.

OFM Nuus/Heidrè Malgas dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.