Central SA
Vrystaatse polisie vat nog vermeende vroue-ontvoerders vas─── KEKELETSO MOSEBETSI 09:21 Fri, 05 Jan 2024
“’n Kenner op die toneel het bevestig die oorskot is dié van ’n mens.”
Polisielede in die Vrystaat het nog verdagtes aangekeer wat verdink word van die ontvoering van en moord op vroue en kinders in Bloemfontein.
Hierdie keer is twee buitelandse burgers (27 en 33 jaar) Donderdag (4/1) in hegtenis geneem nadat hulle verbind is met die ontvoering van Sibongile Portia Ngwana. Haar naasbestaandes het haar op Dinsdag 28 November by die Mangaung-polisiekantoor as vermis aangemeld.
Machaka Radebe. Photo: Facebook
Twee ander verdagtes is verlede Donderdag (28/12) in hegtenis geneem vir die ontvoering van en moord op Machaka Radebe. ’n Voetganger het vier weke vantevore op haar liggaam afgekom in Phase 9, Bloemfontein, twee dae nadat sy op 2 Desember as vermis aangemeld is.
Die jongste inhegtenisnemings het gelei tot intensiewe ondersoeke, waarna ongeïdentifiseerde oorskot in ’n oop veld naby die M10 ontdek is, sê Motantsi Makhele, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “’n Multidissiplinêre span onder leiding van forensiese kundiges het onder die boom naby die stroom saamgekom om die oorskot, vermoedelik dié van vermiste Sibongile Portia Ngwana, te versamel.”
‘Oorskot is dié van ’n mens’
’n Kenner op die toneel het bevestig die oorskot is dié van ’n mens, maar forensiese toetse moet nog uitgevoer word om die identiteit daarvan te bepaal en of dit wel Ngwana se oorskot is, sê Makhele.
Intussen sê Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris, sy is tevrede met die multidissiplinêre span se vordering in hul ondersoek na geslagsgeweldsake. Sy doen ’n beroep op gemeenskappe en naasbestaandes om geduldig te wees terwyl toetse uitgevoer word om slagoffers se identiteit vas te stel.
Nog twee vroue word steeds vermis. Lesego Mamello Motaung (22) is op Maandag 30 Oktober 2023 deur haar tante by die Parkweg-polisiekantoor as vermis aangemeld. Lerato Masiu (23) se ma het haar die laaste keer op Donderdag 16 November 2023 gesien. Die polisieondersoek na hul verdwyning het tot dusver geen resultate opgelewer nie.
OFM Nuus/Kekeletso Mosebetsi dg