On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Ashmund
Listen Live Streams

Central SA

Sagte woorde sorg vir ’n gesonde stem dié Kerstyd

───   10:33 Tue, 19 Dec 2023

Sagte woorde sorg vir ’n gesonde stem dié Kerstyd | News Article
Dr. Ludwig de Jager verduidelik die werking van die larinks aan een van sy pasiënte. Foto verskaf

Omdat Desember ’n kuiertyd is, beveel De Jager aan dat die stem, net soos die liggaam, deur die dag tye van rus geniet.

Die welstand van ons stem is waarskynlik die laaste ding waaraan ons tydens die Kerstyd dink. Dat ons stem potensieel blootgestel word, is egter onbetwisbaar.

Hou in gedagte dat jou stem in dié vakansietyd maklik ooreis kan word, wat blywende skade kan veroorsaak, sê dr. Ludwig de Jager, Bloemfonteinse oor-neus-en-keel-spesialis. "Oormatige gebruik sowel as misbruik van die stem kan ’n wesenlike probleem wees." 

Om te midde van luide musiek of in die buitelug ’n gesprek te voer, of om ons stem buite sy normale omvang te forseer, kan sleg wees vir die stem se welstand. Staan naby genoeg aan iemand sodat jy gehoor kan word sonder om te skree. Trek aandag met handgebare, eerder as om luid te wees.

 ’n Gesonde dieet is noodsaaklik vir die instandhouding van goeie stembande. Foto: Freepik

Wanneer jy ’n toespraak op ’n saamtrek of by ’n ander geleentheid moet lewer,  gebruik ’n goeie luidsprekerstelsel. Dit is ook raadsaam om tegnieke aan te leer vir die korrekte gebruik van ’n mikrofoon. Gee die gehoor kans om stil te raak voor jy begin praat. Wees goed voorbereid sodat jy ontspanne is en genoeg aandag kan gee aan vokale produksie, stel De Jager voor.

Die somervakansie behels meer tyd in die gim, fietsry, vroegoggendraf of stap. Ná sulke oefening is dit goed om die asemhalingstelsel kans te gee om weer ontspanne stemproduksie te akkommodeer voor jy jou stem gebruik.

Omdat Desember ’n kuiertyd is, beveel De Jager aan "dat die stem, net soos die liggaam, deur die dag tye van rus geniet." Wanneer jy moeg of siek is, moet die stem saam met die liggaam rus.

"Kersfees en volgelaaide etenstafels loop hand aan hand." De Jager beskryf dit as aanslae van ons eet- en drinkpatrone op die stemkas. Te veel soet of vetterige kos het dikwels sooibrand tot gevolg. Die suur kan oorspoel tot by die stembande. Rook, drank, kafeïen en ontwatering is almal geswore vyande van die larinks.

Ooreising van kinderstemme kan  ook maklik tydens die Kerstyd voorkom. Foto: Health and Wellness

Swelling van die stembande is die eerste gevolg van trauma. Dit kan lei tot herhaalde keel skoonmaak, wat op sy beurt lei tot méér swelling en heesheid. Gesonde kos en voldoende hidrasie kan trauma aan die stembande help voorkom.

As simptome van stembandstremming, soos heesheid en keelseer, asook ’n voortdurende versadigingsgevoel en sooibrand, ’n paar dae lank voortduur, raadpleeg jou dokter. 

OFM Nuus  dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.