Central SA
Tannie Patat van Jagersfontein se resepte vir nageslag bewaar─── ELSABÉ DE JAGER 21:57 Tue, 12 Dec 2023
Dis nodig dat kinders die waarde van ’n gesonde bord kos en die samesyn om ’n etenstafel moet kan waardeer.
“Om hierdie boek te lees is om deur ’n klein skrefie binne-in tannie Patat van der Post se sagte, ruim hart in te kyk.”
Vir Jacobus Silwer, kunstenaar van Fauresmith, was dit ‘n groot voorreg om die illustreerder van Patat se Patattas te wees. Dat Patat van der Post, alombekend vir haar ruim hart en toorkuns voor die kospotte op die plaas Vendutiekop in die distrik Jagersfontein, se debuutboek ’n resepteboek sou wees, was vir Silwer geen verrassing nie.
Met haar stories moedig Patat kinders aan om kindwees te geniet. Foto verskaf
Dis vir haar belangrik om aan volwassenes sowel as kinders te wys dat dit maklik is om lekker kos te maak, vertel Van der Post.. Sy het besluit om haar kennis van ware kookkuns neer te skryf vir die nageslag.
Om vir nog méér kookpret te sorg, het sy besluit om illustrasies en kort stories ook deel te maak van dié resepteboek. Die eindproduk is inderdaad ’n spogboek wat ’n waardevolle plek op die koffietafel en in die kombuis kan inneem.
Dis nodig dat kinders die waarde van ’n gesonde bord kos en die samesyn om ’n etenstafel kan waardeer, sê sy. Vir haar bied hierdie boek ook geleentheid vir kuiertyd in die kombuis: Terwyl Ma kos maak, kan die kinders by haar wees en ’n storie lees in die boek.
Patat en Henk van der Post ruim altyd tyd in vir familiekuiers. Foto verskaf
Dié besige ouma van nege vertel laggend sy en Henk het geen brieke nie. Hulle reis graag, en ja, dalk ruim sy tyd in vir nog ’n boek of twee.
Met die groetslag noem sy ook hoe lief sy vir Bloemfontein is. Immers is sy hier gebore en getroud met die man wat in dieselfde week as sy gebore is. Heelwat van haar jare lange vriendinne in dié stad se resepte geniet ook plek tussen die patatas van Patat.
OFM Nuus/Elsabé de Jager dg/mc