On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Dewetsdorp: Kabeldiewe swaar gestraf

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 14:35 Wed, 20 Nov 2024

Dewetsdorp: Kabeldiewe swaar gestraf | News Article
Foto iStock

Die polisie op ‘n Vrystaatse dorp hoop die vonnis van ses kabeldiewe sal as afskrikmiddel dien vir diegene wat betrokke is by die beskadiging of steel van noodsaaklike infrastruktuur, en ontwrigting van dienste wat maatskaplike vooruitgang ondermyn.

Dewetsdorp is ’n veiliger plek vir al sy inwoners nadat ses kabeldiewe drie dekades tronkstraf opgelê is vir groot skade aan noodsaaklike infrastruktuur.

Die hooggeregshof in Bloemfontein het die mans Maandag (18/11) elk ’n vonnis van 30 jaar opgelê vir oortredings wat diefstal en beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur insluit.


Dewetsdorp se polisie het op 30 Oktober 2021 ’n wenk ontvang oor twee kragpale by die watersuiweringsaanleg wat afgesaag is, vermoedelik met koperkabeldiefstal as motief, sê Vrystaatse polisiewoordvoerder sers. Mahlomola Kareli.

Foto: iStock

Daar gekom, kon beamptes sien koperkabels is uit die transformator gesteel. Hulle het dadelik na die verdagtes begin soek, maar hul pogings was aanvanklik vergeefs. ’n Saak van beskadiging van infrastruktuur en diefstal is geopen.

Skaars ’n maand later, op 27 November, is dieselfde transformator weer geteiken, hierdie keer deur ’n groep van sewe verdagtes.

Kareli sê die diefstal van koperkabels het aansienlike wateronderbrekings en skade van R210 000 veroorsaak.

Foto: iStock

Ná ’n grootskaalse soektog het die polisie sewe verdagtes in hegtenis geneem. Ses van hulle is Moleleki Lebusho (22), Thabang Molelu (28), Ramokoatsi Raleting (18), Tshweute Raleting (27), Mokotla Raleting (29) en Thabo Mokhethi (25). Een van die verdagtes is egter tydens die verhoor vrygespreek.

Die saak is later na die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad verwys. Volgens Kareli het die NVG, wat saam met ondersoekers werk, ’n sterk saak aan die landdros voorgehou. Die hof het beslis die beskuldigdes hou ’n daadwerklike bedreiging vir die samelewing in.

“Die hof het elke oortreder tot 15 jaar gevonnis vir skade aan noodsaaklike infrastruktuur, nog 15 jaar vir diefstal plus twee maande vir oortreding van die Immigrasiewet.”

OFM Nuus cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.