Central SA
Hennenman-polisiehoof vas vir poging tot moord─── CHARNÉ VAN DER MERWE 14:57 Wed, 20 Nov 2024
Die bevelvoerder van Hennenman-polisiekantoor is steeds in aanhouding nadat hy na bewering sy vriendin aangerand en met die dood gedreig het.
Lt.kol. Sephiri Matankole van Hennenman verskyn na verwagting Vrydag (22/11) in die hof, wanneer hy moontlik om borgtog aansoek sal doen.
Matankole is Vrydag (15/11) in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy meisie, ook ’n polisiebeampte, by ’n motorwassery aangerand het, sê Phaladi Shuping, Opod-woordvoerder. Matankole staan tereg op aanklagte van poging tot moord en gesinsgeweld.
Volgens Shuping het Matankole sy meisie (30) na bewering Vrydag omstreeks 19:45 aangerand. By die huis gekom, is die aanval op die slagoffer glo voortgesit.
‘Klaagster het daarin geslaag om te ontsnap’
“Die klaer was na bewering saam met vriende by die motorwassery in Thabong (Welkom) nadat sy ’n kursus bygewoon het. Sy was glo saam met ’n kollega in die toilette terwyl haar kêrel buite vir haar gewag het.”
Volgens Shuping het hy die slagoffer rondgesleep en haar daarvan beskuldig dat sy in ’n verhouding met iemand anders is.
“Die eienaar van die motorwassery kon Matankole kry om te stop. Die klaagster het daarin geslaag om te ontsnap en is na haar blyplek.”
‘Hierdie saak word met die grootste erns hanteer’
Maar Matankole het haar voorgespring en haar daar ingewag. Hy het haar na bewering met die vuis bygedam en gewurg. Shuping sê die beskuldigde het blykbaar gedreig om die vrou dood te maak.
Die Vrystaatse polisiekommissaris beskryf die voorval as “uiters ontstellend en onaanvaarbaar” en sê sulke gedrag het geen plek in die polisiediens of in ons samelewing nie.
“Enige geweldsdaad, veral gesinsgeweld, sal nie in ons geledere geduld word nie. Ek wil die publiek verseker dat hierdie saak met die grootste erns hanteer word wat dit verdien,” sê lt.genl. Baile Motswenyane.
OFM Nuus mvh