Central SA
NALN sluit verjaarsdagviering af met groot geskenk─── ELSABÉ DE JAGER 09:34 Fri, 08 Dec 2023
“Deur hierdie weldaad het die vereniging bygedra tot die vaslegging van die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van Afrikaans deur die WAT.”
Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein het die viering van sy 50ste bestaansjaar met die ontvangs van ’n groot geskenk afgesluit.
Op ’n geselligheid in die ouditorium, het Paul Colditz, voorsitter van die Vereniging van Vriende van NALN, aangekondig dié instansie het twee woorde, “museum” en “letterkunde”, eksklusief by die Woordeboek van die Afrikaans Taal (WAT) vir NALN gekoop as verjaarsdaggeskenk.
Ter viering van NALN se 50ste verjaarsdag is 14 funksies in die ouditorium aangebied.
Deur hierdie weldaad het die vereniging bygedra tot die vaslegging van die rykdom, kleurrykheid en verskeidenheid van Afrikaans deur die WAT, sê Annelien Diederichs, museumgeesteswetenskaplike. Dié geleentheid was vir haar ’n eervolle afsluiting van ’n jaar waarin 14 funksies by NALN aangebied is.
Vir Wyno Simes, kurator van NALN, wat onbewus van die hele onderhandeling was, was dit ’n groot verrassing toe Colditz die sertifikaat, geteken deur P.A. Louw, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, oorhandig. Die dokument is gedateer 24 Maart 2023, NALN se verjaardag.
Skatte uit die Afrikaanse letterkunde in die ketelkelder van NALN. Foto: Elsabé de Jager
Wat die verrigtinge nog méér besonders maak, het Colditz gesê, is dat die skenking van die twee woorde saamgeval het met die 200ste verjaardag van pres. Jan Brand, vierde staatspresident van die Oranje-Vrystaat, wie se standbeeld voor die hoofgebou van NALN staan.