Central SA
Gesin van Bloemfontein verloor alles in brand─── KAREN VAN DER BERG 11:59 Thu, 30 Nov 2023
![Gesin van Bloemfontein verloor alles in brand Gesin van Bloemfontein verloor alles in brand | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/8aa2cde8-822d-4cec-8c9e-983314fe8bb3.jpg?crop=0,233,450,486)
"Enigiets om die huis weer leefbaar te maak en ons omstandighede so bietjie te verbeter.”
Hulle het alles verloor wat hulle besit en ’n Kerstyd sonder genoeg kos of selfs klere wag nou vir hulle. Daar is ook hoegenaamd geen sprake van Kersgeskenke of ’n spesiale ete nie. Hulle bid net vir kos en ’n yskas en glo en vertrou hulle sal weer bo uitkom.
So vertel Ciska Vorster (34), wie se huis in Pasteurlaan, Hospitaalpark, in Bloemfontein sowat ’n maand gelede afgebrand het. Hulle is ’n gesin van vyf, waaronder drie kinders wat 6, 9 en 13 jaar oud is, wat nou in ’n klein Wendy-huisie op iemand se erf woon.
Die huis wat afgebrand het in Hospitaalpark. Foto verskaf
Vorster sê hulle weet nie hoe die brand begin het nie. Hulle vermoed ’n bed het aan die brand geslaan. Die brand het net vir 18 minute geduur maar in die kort tydjie het alles gebrand. Daar het niks oorgebly nie. Sy sê hoewel hulle regtig baie dankbaar is oor die hulp wat hulle reeds ontvang het, gaan dit baie sleg met hulle en het hulle dringend verder hulp nodig.
“Ons moet ook weer begin om ons huis reg te maak en benodig sinkplate, bakstene, sement en verf. Enigiets om die huis weer leefbaar te maak en ons omstandighede so bietjie te verbeter.”
Ciska Vorster en die drie kinders. Foto verskaf
Sy sê dit is eers wanneer ’n mens alles verloor het, dat ’n mens besef hoe dankbaar jy vir die klein dinge in die lewe moet wees.