Central SA
‘Bly weg van vetkoek, gebraaide kos’ – Vrystaatse voedingskundige─── LUCKY NKUYANE 12:59 Wed, 08 Nov 2023
“As dit jou daaglikse dieet is, kan dit ernstige gevolge vir jou gesondheid inhou.”
’n Bloemfonteinse voedingskundige van die Vrystaatse Gesondheidsdepartement, Mahlatse Mogalu, waarsku teen ’n dieet wat oormatig vetterige kosse insluit.
“Baie siektetoestande is meestal die gevolg van ’n hoë-vet dieet. ’n Slegte dieet dra by tot hoë bloeddruk, diabetes en vetsug.”
Mogalu sê die inwoners van Bloemfontein is lief om vetkoeke en gebraaide kosse as ’n maaltyd te eet. “As dit jou daaglikse dieet is, kan dit ernstige gevolge vir jou gesondheid inhou. Ek sê nie sny dit heeltemal uit nie, maar eet dit minder gereeld.
“Deur minder vetterige kos te kies verminder jy jou kans om hoë bloeddruk en diabetes in die toekoms te ontwikkel. Wanneer jy as 'n individu gesond begin eet, beteken dit jou gesin sal ook gesond begin eet.”
Die departement se Rotary-gesinsgesondheidsveldtog is Woensdag (8/11) in Rocklands, Bloemfontein, gehou. Foto: Lucky Nkuyane
Sy het met OFM Nuus gesels tydens die departement se Rotary-gesinsgesondheidsveldtog wat Woensdag (8/11) in Rocklands, Bloemfontein, gehou is.
Die veldtog is gelei deur dr. Sibongiseni Dhlomo, die Adjunkminister van Gesondheid, en die Vrystaatse LUR vir Gesondheid, Mathabo Leeto.
’n Groot aantal inwoners, oud en jonk, het by die geleentheid opgedaag om aan die veldtog deel te neem.
Die veldtog is gelei deur die Adjunkminister, dr. Sibongiseni Dhlomo en die Vrystaatse LUR, Mathabo Leeto. Foto: Lucky Nkuyane
Die woordvoerder, Mondli Mvambi sê die veldtog is 'n publieke-private-vennootskap tussen die SA regering, die Nasionale Vigsraad, Rotariërs Internasionaal en verskeie ander organisasies. Dit is daarop gemik om 'n omvattende pakket van gratis primêre en gespesialiseerde gesondheidsdienste vir drie opeenvolgende dae gedurende November elke jaar aan moeilik bereikbare gemeenskappe regoor die land te bring.
“Adj. Min. Dhlomo is vergesel deur die hoof van die Vigsraad, ds. Zwoitwaho Nevhutalu, me. Leeto, Sue Paget, die hoof van die Rotariërs se aksiegroep vir gesinsgesondheid en Vigsvoorkoming, gemeenskapsleiers en sake- en ontwikkelingsvennote.”
OFM Nuus/Lucky Nkuyane Corné/