Central SA
Sentraal-Suid-Afrika in ’n bibbergreep vasgevang─── KAREN VAN DER BERG 14:32 Mon, 30 Oct 2023
“Hy sê elke winter hy hoop om sneeu te sien. En daar sneeu dit einde Oktober.”
’n Mens sou jou vergewe het as jy gedink het vandag is ’n koue wintersoggend met ysbere wat op die stoep speel en Sentraal-Suid-Afrika in ’n bibbergreep beet het.
In Harrismith, Van Reenen, Kestell en Qwaqwa lyk dit soos ’n sprokieswêreld met sneeu wat op plekke kniediep gelê het.
Die sneeu het op plekke kniediep gelê. Foto: Estelle Crause
Estelle Crause van die plaas Heuninglaagte, in die Kestell-distrik, sê die sneeu was ’n groot verrassing dié tyd van die jaar.
“Dit het nie so baie gesneeu nie, maar hy lê lekker wit. Daar is ’n redelike hoeveelheid sneeu.” Sy sê hulle het plantgewasse en net ’n paar skape wat gelukkig niks oorgekom het nie. So daar is darem nie skade met die skielike koue nie.
Dit is die eerste keer wat haar seun, JC (5), sneeu sien. “Hy sê elke winter hy hoop om sneeu te sien. En daar sneeu dit einde Oktober.” Foto: Estelle Crause
Thania Dhoogra, bedryfsbestuurder van die N3TC, het motoriste oor gevaarlike toestande gewaarsku. Swaar sneeuval het in Van Reenenspas geval.
“Die sneeu dra by tot verswakte sigbaarheid en gevaarlike omstandighede om in te bestuur. Ysige toestande, reën en vriesende temperature is aangemeld.” Sy sê mense word versoek om stadig te ry en hul bestuursgedrag by die toestande aan te pas.”
Die sneeu in Van Reenenspas. Foto: Arrive Alive
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku oor ’n kouefront wat na verwagting vandeesweek nat en winderige toestande oor dele van die land sal bring.
“Nog ’n waarskuwing wat ons Sondag ontvang het, is ontwrigtende sneeu wat tot moontlike gevaarlike padtoestande in die Oos-Kaap kan lei. Ons verwag ook sterk wind wat skade in Namakwaland in die Noord-Kaap en die Matsikama-munisipaliteit in die Wes-Kaap kan aanrig,” sê Lehlohonolo Thobela, weervoorspeller.