Central SA
Twee van Sentraal-Suid-Afrika het hul oog op Mnr. Suid-Afrika 2023-titel─── ZENANDE MPAME 11:05 Fri, 13 Oct 2023

Die toptien sluit in entrepreneurs, modelle, oogkundiges, vlieëniers en korporatiewe prokureurs.
Twee van die toptien-finaliste het voorheen in Sentraal-Suid-Afrika gebly. Frik van Heerden is van die Noord-Kaap en is nou ’n entrepreneur en sakeman in Pretoria.
Van Heerden sê hy het vir die kompetisie ingeskryf omdat hy nog altyd geïnspireer is deur individue wat hul invloed ten goede gebruik. Hy glo dat hierdie platform vir hom ’n geleentheid bied om 'n verskil te maak om eenheid en diversiteit te bevorder.
“As ek Mnr. SA 2023 word, sal my doelwit wees om entrepreneurskap en ekonomiese groei te bevorder.”
Frik van Heerden wil eenheid en diversiteit bevorder. Foto verskaf
“Die land het geweldige potensiaal en ek beplan om aspirant-entrepreneurs, veral dié uit minderbevoorregte agtergronde, te bemagtig deur mentorskap, toegang tot hulpbronne en besigheidsontwikkelingsondersteuning te verskaf.”
Die entrepreneur Lefa Taleni, ’n boorling van Qwaqwa, is ’n selfopgeleide redigeerder en woon in Midrand, noord van Johannesburg. Hy vertel hy het ingeskryf omdat hy klein ondernemings wil ondersteun omdat werkloosheid onder die jeug ’n groot probleem is.
Lefa Taleni wil veral klein ondernemings help. Foto verskaf
“Suid-Afrika het 'n werkloosheidskrisis en ek glo as klein ondernemings beter vaar, kan hulle meer mense in diens neem," sê Taleni.
Die nuwe Mnr. Suid-Afrika 2023 word Saterdag 11 November in die Vodacom Dome in Midrand aangewys.