On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Meisies van Oranje debatteer ’n wenplek los

───   ELSABÉ DE JAGER 08:00 Tue, 10 Oct 2023

Meisies van Oranje debatteer ’n wenplek los | News Article
Hulle het ’n naaswennersplek losgesels. Foto verskaf

Vir dié drie flinkdinkers het die voorbereiding van die onderwerp kophou en kopkrap behels.

Drie debatteerders van die C&N Sekondêre Meisieskool in Bloemfontein is die afgelope naweek as naaswenners gekroon in AfriForum se Dink of Sink-onvoorbereide debatskompetisie vir hoërskoolleerlinge. Vyf streekswenspanne het aan die finale ronde, wat by Akademia in Centurion aangebied is, deelgeneem.

Karli van Heerden, Dominique du Plessis en Lara Potgieter het met hul redenasietalent opnuut getoon dat die Afrikaanse debat steeds ’n volwaardige plek in die samelewing beklee. Die span van Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria het as wenners uit die stryd getree.

Kophou tydens die kort voorbereidingstyd. Foto verskaf

Nicolene Muller, projekkoördineerder van die kompetisie, sê dit was inderdaad ’n naelbyt-eindstryd. Die room van die room het teen mekaar gedabatteer. Die entoesiasme van die deelnemers dien vir AfriForum as inspirasie om die nasionale kompetisie in 2024 nog vérder uit te brei en te versterk.   

“Die groot voordeel van Dink of Sink is dat dit werklik ’n onvoorbereide debatskompetisie is en dat leerders geen voorbereiding hoef te doen, buiten om ingelig oor aktuele sake te wees nie. Hulle kry hul onderwerpe letterlik vyf minute voordat elke debat ’n aanvang neem, en weet ook dán eers of hulle vir of téén die bepaalde onderwerp moet argumenteer,” sê Alana Bailey, hoof van AfriForum se Kultuursake.

Vir Karli, Dominique en Lara was hierdie kompetisie spanwerk wat hulle altyd sal onthou. Foto verskaf

Karli, Dominique en Lara is dit eens dat ’n ware debatteerder op die hoogte van die dag se nuusgebeure moet wees, oor ’n goeie idiomatiese taalgebruik moet beskik en op sy of haar voete moet kan dink. In die finale ronde moes hulle die stelling, dat die beplande Nasionale Gesondheidsversekeringsplan meer voordele as nadele inhou, verdedig. Vir dié drie flinkdinkers het die voorbereiding van die onderwerp kophou en kopkrap behels.

OFM Nuus/Elsabé de Jager

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.